
As die syfermanne hul somme reg gemaak het, behoort Stellenbosch se wynboere sowat 12,1 ton druiwe per hektaar te oes om gelyk te speel, maar die waarheid is dat hulle nader aan 7,5 ton/ha oes.
Dit is ’n kommerwekkende neiging wat verreikende gevolge vir die bedryf kan inhou as dit nie omgekeer word nie. Vir prof. Eben Archer, of “Prof” soos hy in die wynbedryf bekend staan, is die antwoord voor die hand liggend: Boere moet weer leer hoe om ’n “wingerdstok se kop te lees”.
As die basiese praktyke – soos snoei – reg aangepak word, is die stryd al halfpad gewonne en kan dit ’n hupstoot in gehalte en opbrengs gee. “Ons boer eintlik nie met wyn nie, maar met wingerdwortels en sonlig.” Archer is een van die bedryf se bekendste konsultante en ’n man wat baie snoeikennis in pag het.
Prof. Archer verduidelik hier meer oor die regte snoeipraktyke.