
Amerika is die snelgroeiendste wyndrinkende land ter wêreld en om alles te kroon praat dié wynliefhebbers Engels!
Me. Annette Badenhorst, die generiese wynbemarkingsliggaam Wosa se markbestuurder in Amerika, sê hoewel dié eienskappe die land baie aantreklik maak, is dit ’n uiters komplekse mark met wetgewing wat van staat tot staat verskil. “Dis soos om in 50 verskillende lande sake te doen.”
Boonop volg hulle ’n drievlakverspreidingsmodel vir alkohol. Dit beteken ’n produsent kan sy produk slegs aan ’n groothandel-verspreider verkoop, wat weer op sy beurt aan die kleinhandel verkoop. Slegs kleinhandelaars mag aan verbruikers verkoop.
Badenhorst, wat in New York woon, sê die grootste kategorie is steeds vir wyn wat vir minder as $10 (R110) verkoop. Die $10-$15-kategorie (R110-R165) vir ingevoerde wyne is egter ook baie sterk, en dis waar die geleenthede vir Suid-Afrika lê.
Net 'n druppel aan die emmer
Op die oomblik verkoop Suid-Afrika sowat 1 miljoen kiste wyn (met 12 bottels elk) per jaar in Amerika. Dit klink dalk baie, maar vir dié groot mark is dit ’n klein druppeltjie. Die Australiese handelsmerk Yellow Tail verkoop meer as dit per maand in Amerika. En Nieu-Seeland, wat ’n klein wynproduserende land vergeleke met Suid-Afrika is, verkoop bykans 5 miljoen kiste wyn per jaar in Amerika.
Wat verhinder Suid-Afrika om dieselfde te doen? “Suid-Afrika is nog onbekend by die Amerikaners. Ná 1994, toe die wynbedryf die internasionale markte betree het, het die meeste produsente vir die bekende Europese markte gemik. Baie min het Amerika probeer betree. Die uitdaging is om ’n verspreidingsnetwerk op te stel en wyn te maak waarvan die mark hou.
'n Soeter palet
Jy moet onthou, Amerikaners het ’n soeter palet. “Die Amerikaners is ook baie bederf. Daar is letterlik duisende handelsmerke van oor die hele wêreld in ’n drankwinkel. Verpakking is dus uiters belangrik. Jou etiket moet die oog tref. Handelsmerke met die vreemdste name, soos Cupcake, werk daar. Suid-Afrika is ook die brug tussen die Ou en die Nuwe Wêreld. Daarom sukkel Amerikaners om Suid-Afrika te plaas. Dit is anders as Argentinië, wat vir hulle Malbec beteken.”
Maar die voordele is beslis daar. Hoewel die Amerikaners steeds meer bier drink, groei hul belangstelling in wyn. Verbruikers raak meer ingelig oor wyn en die sosiale media help om wyn se beeld as kompleks of intimiderend af te breek. Boonop verslap wetgewing oor aanlynverkope, wat dit vir invoerders makliker maak om oor staatsgrense heen te verkoop. “Dit is ’n mark met oneindige geleenthede omdat dit so groot is. As jy jou net op Colorado toespits, sal jy al jou wyn daar kan verkoop. Amerika is boonop ’n mark wat jy kan vertrou, anders as Rusland en China waar produsente al hul vingers verbrand het. As die Amerikaners eers aan iets gebyt het, is hulle baie lojaal.”
•Lees die res van die insiggewende artikel in vandeesweek se Landbouweekblad (14 Maart) wat nou op die rakke is.
Grafika: KIMBERLEY VAN ROOYEN