Liezel Moolman is die bemarkings- en logistieke bestuurder van Professional Horticulture Consulting, ’n Suid-Kaapse onderneming wat aarbeie verbou en onder die Garden of Eden-handelsmerk versprei. Hulle verbou ook ander bessies, soos frambose en bloubessies.
Ons boerdery, wat al veertien jaar lank aan die gang is, is die enigste wat twaalf maande van die jaar bessies produseer. Tans bestaan die boerdery uit sowat 50 hektaar aarbeie, 3 hektaar bloubessies en ’n halwe hektaar frambose.
Ons boer op drie plase wat onderskeidelik teen 10 m, 300 m en 700 m bo seevlak lê. Dié verskillende mikroklimate stel ons in staat om ons produksietydgleuf te verleng. Brandwag is die plaas waar die grootste deel van ons produksie plaasvind.