Ek dink daar is streke waar aartappels beter presteer as in die Loskop-vallei, maar ons voordeel is dat ons twee aanplantingsiklusse in een jaar kan doen. Ons is ook sentraal geleë om by die markte te kom, veral die verwerkingsaanlegte vir aartappelskyfies.
Die eerste aanplanting vind einde Januarie, begin Februarie plaas. Ons oes dié aartappels van Junie tot Augustus. Die tweede aanplanting is einde Mei, en oestyd daarvoor is Oktober en November. In sommige jare doen ons selfs ’n derde aanplanting in Julie wat ons dan in Desember oes, maar dit word bepaal deur die verwerkers se behoeftes.
Ons grootste aanplanting is vir Pepsico (Simba) en op ’n kleiner skaal ook vir Willards en McCain’s. Dit is baie belangrik om op goeie voet met die skyfiefabrieke te wees aangesien dit ’n langtermynverhouding is. Dit is ook belangrik om deurentyd goeie gehalte te lewer en die gekontrakteerde volumes op die vasgestelde stadiums te lewer.