Nadat ek ’n bietjie navorsing oor die klimaat en die markbehoeftes gedoen het, het ek ’n klein bietjie broccoli geplant. Van daar het dit gegroei tot waar ons vandag regdeur die jaar broccoli verbou en oes. In die somer plant ons sowat 50 000 saailinge per week. Wintertyd plant ons weekliks 30 000 tot 50 000 saailinge van die Parthenon-kultivar.
Ons gebruik hoofsaaklik organiese bemesting en doen gereeld sapontledings om enige tekorte uit te wys. Dit help ons om die spuitprogramme uit te werk vir die beste resultate. Ons neem ook grondmonsters voor elke gewas geplant word sodat ons die nodige regstellings kan doen.
Ons glo ’n gesonde, gebalanseerde plant met hoë Brix-vlakke kan siektes en insekte afweer sonder dat dit nodig is om ’n klomp sterk chemikalieë te gebruik. Goed gebalanseerde, opgepaste grond is die sleutel tot ’n gesonde oes en volhoubare boerdery.