Een van ons grootste voordele is dat ons so naby aan al die markte is. Ons kernbesigheid is aarbeiproduksie, wat ons oor 52 ha op drie verskillende plase verbou. Ons boer ook met tamaties, soetrissies en kruie wat ons aan al die kettingwinkels reg oor Suid-Afrika lewer.
Ons verbou tans 3,5 ha tamaties, maar kan dit binne die volgende maande tot 10 ha uitbrei danksy ’n plaas wat ons onlangs aangekoop het. Ons produseer twaalf maande van die jaar, en kan dus ons infrastruktuur, soos die pakskuur, ten volle benut.
Ek het meer as 30 jaar ondervinding van tamatie- en groenteboerdery en het baie oorsee gereis om die interessantste kultivars te kies. Ons het tans 130 verskillende kultivars, wat insluit van die groot vleistamaties (beefsteak), tamaties aan die rank, mini-rosa- en kersietamaties tot 36 erfeniskultivars van Italië, Frankryk en die Ooste.