
Mnr. Pierre-André Rabie, Vinpro se senior landbou-ekonoom, het tydens die organisasie se inligtingsdag vir die Worcester- en Breedekloofstreek gesê kunsmis is die voorloper wat verhoogde koste betref. Voorspellings dui daarop dat wynboere se produksiekoste met 14,54% gaan toeneem.
“Die dag-tot-dag-uitgawes om die oes voor te berei en af te haal gaan naby R50 000/ha wees. Die totale produksiekoste sal R65 000/ha wees. Wynboere se bruto inkomste moet dus rondom R100 000/ha wees. ’n Groot deel van die bedryf is ver van daar af.”
Hy het boere op die hart gedruk om na te dink oor kultivars se winsgewendheid en die ouderdomsamestelling van wingerde.
Volgens mnr. Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, het wynprodusente se koste die afgelope tyd gemiddeld met 7% per jaar toegeneem, maar netto boerdery-inkomste het konstant gebly die afgelope twee jaar.
Hy sê sedert die covid-19-uitbreking raak verskeie faktore die wynbedryf. Dit sluit in regulering van die drankbedryf, protesonluste, die konflik in Oos-Europa, vloede in KwaZulu-Natal, probleme in hawens en beurtkrag.
“Dis nou belangrik om die regte ding te doen op plase, want ons kan nie bekostig om foute te maak in die ketting nie,” het hy gemaan.
Conradie het gesê daar is ook steeds ’n probleem met voorraadvlakke, wat in 2019 ’n hoogtepunt van 650 miljoen liter bereik het en tans op sowat 618 miljoen liter staan.
“Ons moet vyf maande se voorraad probeer dra. Die werklike surplus is dus sowat 250 miljoen liter. Dit lyk nie veel anders elders ter wêreld nie, maar kan óns dit hanteer, want dit kos geld en het ’n kontantvloei-implikasie om die voorraad te dra?” het hy gevra.
Met verloop van tyd het die wynprys se saamgestelde jaarlikse groeikoers met 6,8% toegeneem, maar daar was ’n skerp daling in pryse sedert die gewraakte covid-jaar (2019), toe gemiddelde rooiwynpryse van R9,49 tot R8,38 en witwynpryse van R7,30 tot R6,09 geval het.
Sowat 400 miljoen liter wyn word jaarliks uitgevoer, terwyl 380 miljoen plaaslik in glase geskink word. Bokswynverpakkings het sedert 2014 met 93% gestyg, terwyl glasverpakkings in dieselfde tydperk met 15% afgeneem het.
“Boere en kelders moet gaan dink oor hul produk en kyk waar daar geleenthede met pryspunte en verpakkings is. Dis nou ’n geval van ‘hang in there’. Dis nie maklik of lekker nie, maar ons moet met hoop werk.”