
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging, sê volgens die huidige vooruitskattings sal ’n beraamde 142 480 652 miljoen kartonhouers sitrus (15 kg) vanjaar uitgevoer word.
Verlede jaar is 164,8 miljoen kartonhouers sitrus uitgevoer, 5,7 miljoen minder as wat aanvanklik beraam is, en slegs een uit elke vyf sitruskwekers het ’n wins met hul uitvoer gemaak.
Volgens Chadwick was verlede jaar se uitvoerseisoen ’n moeilike een weens die skerp toename in insetpryse en uitermatige stygings in verskepingspryse wat dit aansienlik duurder gemaak het om vrugte by hul bestemming te kry.
Die instelling van die Europese Unie se nuwe regulasies vir die bekamping van valskodlingmot in die middel van die uitvoerseisoen, voortslepende agteruitgang van openbare infrastruktuur en wisselvallige kragvoorsiening het verdere sout in die wond gesmeer.
“Baie van hierdie kwessies sal waarskynlik vanjaar voortduur, of selfs vererger, namate beurtkrag meer voorkom en insetkoste aanhou styg. Die oesvooruitskatting vir ’n aantal kultivars wat slegs matige groei toon of selfs sal afneem vergeleke met verlede jaar.”
Goeie nuus vir suurlemoen-, valencia-uitvoer
’n Beraamde 37,3 miljoen kartonhouers suurlemoene (15 kg) sal na verwagting na belangrike markte uitgevoer word. Dit is 2,6 miljoen kartonhouers meer as verlede jaar.
Die toename is te danke aan jonger bome in verskeie areas wat produktief geword het, onder meer die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. “Die onlangse swaar reën in die noordelike dele van die land asook hael in die Oos-Kaap kan egter moonltik die totale uitvoervolume verminder,” sê Chadwick.
Die Midde-Ooste is steeds die grootste uitvoermark vir plaaslike suurlemoene. Vanjaar sal 49% van Suid-Afrikaanse suurlemoene daarheen uitgevoer word (vergeleke met 46% in 2021) met 22% wat vir Asië bestem is (vergeleke met 18% in 2021) en 3% wat vir Brittanje geoormerk is (vergeleke met 2% in 2021).
Minder suurlemoene sal vanjaar na Rusland uitgevoer word, 18% vanjaar vergeleke met 23% in 2021, asook Noord-Amerika, 7% vanjaar vergeleke met 10% in 2021.
Vanjaar sal na beraming 54,5 miljoen kartonhouers valencia-lemoene uitgevoer word. Dit is 700 000 kartonhouers meer as die 53,8 miljoen kartonhouers wat verlede seisoen uitgevoer is. Die toename is te danke aan gunstige weersomstandighede in ’n aantal streke wat produksie laat toeneem het.
Chadwick sê die terugvoering wat egter van sommige markte ontvang is, dui daarop dat minder sitrus in sommige lande verbruik word, wat ’n impak op die finale verskepingsyfers kan hê.
Verwagting vir nawel-lemoene, pomelo’s minder gunstig
Huidige vooruitskattings dui op ’n afname van 2,5 miljoene kartonhouers in die uitvoervolume van nawel-lemoene. Na verwagting sal ’n totaal van 25,3 miljoen kartonhouers vanjaar uitgevoer word.
Volgens Chadwick het sommige boere besluit om nie vanjaar nawel-lemoene uit te voer nie en het onlangse haelstorms in die Wes-Kaap ook ’n impak op dié streek se volumes gehad. Beurtkrag het ook boere se vermoë om te besproei gekniehalter.
’n Beraamde 12,7 miljoen kartonhouers pomelo’s (17 kg) sal na verwagting vanjaar uitgevoer word. Dit is 2,1 miljoen kartonhouers minder as verlede jaar. Chadwick sê boere in verskeie streke het aangedui dat hulle nie van plan is om klas 2-pomelo’s en pomelo’s vir verwerking uit te voer nie.
Die vooruitskattings vir die uitvoer van mandaryne sal eers in April beskikbaar wees.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.