
Besonder goeie somerreën in Limpopo en Mpumalanga het tot dusver nie ’n ongunstige impak op gewasse wat hierdie tyd van die jaar geoes word nie, behalwe dat dit voorkom of die oestyd effe later as vorige jare gaan begin.
Dis veral lietsjies waarvan die pluktyd vanjaar twee weke later as gewoonlik begin. Mnr. Bram Snijder, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lietsjiekwekersvereniging, sê hoewel die oestyd later begin het, lyk die oes goed en het die nat weer nog nie erge vrugbars veroorsaak nie. Hy voorsien dat vanjaar se oes gemaklik 1,2 miljoen tot 1,3 miljoen uitvoerkartonhouers gaan oplewer.
Mnr. Jaco Fivaz, ’n boer van Mohlatsi Boerdery, sê die reën bemoeilik die oes van mango’s wat vandeesweek in die distrik Hoedspruit begin het. Die oes is in die Onderberg-omgewing ook effe vertraag. Hy meen egter die natuur is besig om na sy ou patrone terug te keer. “Ons het vir baie jare tot einde Januarie nog Tommy Atkins-mango’s gepluk, maar die afgelope twee jaar het ons teen 10 Januarie ons laaste Tommy Atkins gepluk. Nou vermoed ek dit gaan weer soos vroeër jare wees.”
Werksmag reg vir sonskyndae
Fivaz sê mangokwekers het verlede jaar baie moeilik geoes met swaar neerslae in Desember en Januarie. “Vanjaar is ons beter voorbereid. Ons sorg dat ons volle werksmag gereed staan om die boorde in te vaar en te pluk wanneer ons ’n sonskyndag het en bêre eerder ons vrugte onder dak as aan die bome.”
Die afgelope maand se goeie reën het ook daartoe bygedra dat die mango’s wat aan die begin van die somer nog aan die klein kant was, goed gegroei het. “Ons vrugte se groottes lyk nou goed,” sê mnr. Pieter Buys, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mangokwekersvereniging. “Die reën het ’n hengse verskil gemaak.”
Buys wat in die distrik Letaba boer, sê daar was tot op hede nie skade as gevolg van die baie reën nie en dat vruggehalte oor die algemeen goed lyk. “As ons die antraknose en vrugtevlieë onder beheer kan hou, gaan ons ’n redelike oes sien.”
Groter vrugte
Hy skat vanjaar se oes wel omtrent 15% kleiner as verlede jaar, maar noem dat die bome opmaak vir ligter drag deur groter vrugte op te lewer. Dit is soms moeiliker om groter vrugte te pak, maar tel in boere se guns in sekere uitvoermarkte soos die Midde-Ooste waar verbruikers groter vrugte verkies.
Die noordelike produsente van tafeldruiwe sit ook op hete kole om te begin oes. Me. Ursula Quinn van HN Pieterse Boerdery naby Marble Hall het tydens ’n onlangse webinaar van die Suid-Afrikaanse Landbouskrywersvereniging gesê dié boerdery wil begin oes, maar as gevolg van reënweer moet hulle wag vir vrugte om te verkleur en vir die gewensde suikervlakke.