Skade aan groente- en vrugtegewasse as gevolg van sonbrand en hittespanning neem jaarliks toe. By mango's kan tot 70 % van die oes afgegradeer word as geen voorsorg teen sonbrand getref word nie. Dit kan die boer se inkomste met derduisende rande laat krimp.
Hierdie verliese kan grootliks beperk word deur die vrugte met middels te bespuit wat ontwikkel is om sonbrand te keer en om besproeiing só te bestuur dat die bome goed kan transpireer.
Prof. J.M. Kotze, voorheen direkteur van navorsing vir die mango-, avokado- en lietsjiebedryf, bestudeer sonbrand by vrugte en groente ál nege jaar lank. Hy meen die meeste boere onderskat die skade wat sonbrand aanrig en besef te laat in die seisoen hoeveel skade werklik aangerig word.
Hy sê veral mangoboere ly groot skade, aangesien die vrugte in die warmste maande aan die bome is en die meeste sonbrand dan voorkom.
'n Goeie, gesonde mango is gemiddeld sowat R3 werd. Daarenteen is een met sonbrandskade net sowat 30c werd as dit aan 'n verwerkingsaanleg gelewer word. As 'n boer dus nie teen sonbrand waak nie, is die skade enorm - tot 70 % van die oes.
Vrugte met sonbrandletsels kan nie uitgevoer word nie en daarby is dié vrugte gewoonlik ook vir geen produktemark aanvaarbaar nie.
Die probleem is egter groter as die regstreekse vrugskade. Wanneer die temperatuur hoër as 35 grade Celsius styg, ondervind die meeste plante hittespanning, wat die produksie en gehalte van die vrugte nadelig tref.
Sulke temperature kom dikwels van September af in mangoboorde voor en bereik 'n hoogtepunt in Februarie. Die blare, wat die verkoelingsorgane van die boom is, kan dan nie die boom en vrugte behoorlik afkoel nie.
In dié tye styg die temperatuur op die vrugwand wat na die son gekeer is, dikwels tot 55 grade Celsius. Dit laat van die selle van die vrug op dié plek afsterf, wat intense skade veroorsaak.
Genoeg besproeiingswater is noodsaaklik om transpirasie aan te help. In die warmste maande van die somer is daar dikwels nie genoeg water hiervoor nie en die plante en vrugte ly aan hittespanning.
Sonbrand kan egter goed beheer word met middels wat die plant en vrugte teen sonbrand beskerm, maar dan moet vroegtydig daarmee begin word. Die eerste sonbrandskade by mango's word dikwels al in September aangerig en sulke vrugte gaan verlore.
In mangoboorde waar sonbrand 'n probleem is, moet sulke middels al teen die einde van September gespuit word. As dooie weefsel deur sonbrand veroorsaak is, sal daardie kolle net groter word en geen behandeling kan verdere skade verhoed nie.
"Sonbrand veroorsaak natuurlik nie net dooie weefsel nie," sê prof. Kotze. Dit begin gewoonlik, na gelang van die kultivar, met 'n geel of rooi verkleuring van die skil. Sulke vrugte sal ook nie gered kan word nie. Die skade neem mettertyd toe. Prof. Kotze sê hy werk nou saam met twee chemiese ondernemings en groot vrugteplase. Nuwe middels behoort in die komende seisoen kommersieel beskikbaar te wees wat sonbrandbeheer teen 'n geringe koste binne die boer se bereik sal bring. 28 Februarie 2003