
Die Sagtevrugte Produsente Trust (SPT) se operasionele bedryfsdienste en -funksies wat vir ‘n wye reeks nasionale bedryfsverenigings uit sy kantore in die Paarl gelewer word, is amptelik vanaf 1 Oktober 2009 na ’n nuwe diensentiteit, Hortgro Services, oorgedra.
Hortgro Services sal voortaan ál die SPT se administratiewe dienste en finansiële administrasie, asook funksionele dienste m.b.t. transformasie en opleiding, inligting, kommunikasie en sosiale programme, huisves. Alle SPT-personeel is na Hortgro Services oorgedra en sal soomloos voortgaan met hulle werksaamhede en dienste aan die groeperings aan wie tot dusver dienste gelewer is.
Volgens mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro Services, het die SPT, benewens die sagtevrugtebedryf, reeds etlike jare ’n reeks aanverwante bedryfsverenigings soos die Droëvrugte Tegniese Dienste (DTD), SA Olives, Protea Produsente SA (PPSA) en SA Kersies, gediens.
Generiese diensstruktuur
Etlike ander bedryfsgroeperings het ook reeds aangedui dat hulle by ’n meer generiese diensstruktuur wil aansluit of spesifieke dienste wil inkoop om hulle eie take te konsolideer. Hierdie nuwe identiteit maak dit derhalwe moontlik om hierdie rolspelers voortaan op ’n meer inklusiewe basis te kan bedien.
Rabe het ook aangedui dat hierdie operasionele konsolidasie binne Hortgro Services, binnekort ook op ‘n strategiese bedryfsvlak verder gevoer sal word met die stigting van Hortgro SA. Dit sal as ’n artikel 21-maatskappy ’n nasionale platform vir sy lede skep om gemeenskaplike sake oor die spektrum van die waardeketting meer sinvol aan te spreek en gekonsolideerd na buite te kommunikeer.
Die idee is dat verskillende primêre tuinbou-bedryfsverenigings by Hortgro SA sal affilieer om op strategiese vlak gemeenskaplike sake meer effektief te kan hanteer. Dit sal geen invloed op die outonomie en verantwoordelikhede van primêre bedryfsverenigings soos SAAPPA, SASPA, DTD en die Inmaak Produsente Vereniging (IPV) hê nie.
Rabe het bevestig dat die SPT nie heeltemal sal verdwyn nie, aangesien dit steeds ’n reeks ooreenkomste en kontrakte namens die kern- en steenvrugbedrywe huisves. Soos hierdie ooreenkomste verval of hernu moet word, sal dit na Hortgro Services oorgedra word. Kern en steenvrug statutêre heffings sal ook steeds binne SPT Finansies, die entiteit wat aan die Ouditeur-Generaal en die Nasionale Bemarkingsraad oor die aanwending van heffings verslag moet doen, ingevorder word.
1 Oktober 2009