
’n Belowende uitvoerseisoen vir appels en pere het op ’n suur noot begin as gevolg van stadige verskeping wat daartoe gelei het dat Early Bon Chretien, Delecta Fruit se eerste pere vir die seisoen, eers oor twee weke in Europa sal aankom nadat dit gister verwag is, het mnr. Awie de Jager, besturende direkteur by Delecta Fruit, aan Freshplaza.com vertel.
Hortgro het vroeër vanjaar aangedui dat ’n goeie uitvoerseisoen vir appels en pere verwag word met uitvoer wat met onderskeidelik 6% en 8% sal toeneem, veral danksy die normalisering van die Forelle- en Packham-oeste.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het verlede week gesê hy is saam met die landbousektor bekommerd oor die moontlikheid dat tekortkominge by Kaapstad-hawe ’n risiko vir landbou-uitvoer kan wees.
De Jager het luidens Freshplaza.com gesê dat Delecta effens gespanne oor die uitvoer van pruime en nektariens na die Midde-Ooste in die komende weke is omdat vragte op mekaar se hakke daar aankom weens die vertraging van vragskepe of vragskepe wat seker hawens vermy.
Aangesien steenvrugte meer bederfbaar is, is die grootste kwessie met uitvoer die periode vandat dit verpak word tot dit sy bestemming bereik. Hoewel vragskepe weekliks in Kaapstad gelaai word, word meer steenvrugte as tevore ook padlangs na die hawens in Gqeberha en Durban geneem om te verseker dat hulle so vinnig as moontlik hul bestemming bereik.
Lees die volledige artikel by bit.ly/3oky1NC