
Seisoenale werkers in die landbou het weens die Transnet-staking sowat R30 miljoen per week aan inkomste verloor, sê Agri SA.
Mnr. Johannes Möller, die voorsitter van Agri SA, sê die 18 dae lange staking het kommersiële boere tot dusver meer as R800 miljoen gekos.
“Dit is die koste van uitvoerprodukte wat by hawens en so aan, bly staan het. Ons weet nog nie wat die koste is van byvoorbeeld vrugte wat aan bome moes bly en gevolglik gevrot het aangesien boere se pakstore vol was nie.” Möller meen dié staking kan die landbou uiteindelik meer as R1 miljard kos.
Invloed op werksgeleenthede
Möller sê hy weet nog nie hoeveel werkgeleenthede in die landbou verlore gegaan het weens die staking nie, maar hy weet dat tydelike werkers die afgelope drie weke baie swaar gekry het omdat hulle byvoorbeeld nie vrugte kon pluk en verpak nie, en gevolglik nie lone kon verdien nie. “Die landbou was verlede jaar juis een van die enigste sektore wat werk geskep het.”
Hy meen die staking gaan, weens die invloed wat dit op die landbou het, langtermyn gevolge vir die ekonomie inhou. “Veral aangesien 35% van die ekonomie met ‘n primêre sektor, soos die landbou, skakel”.
Moontlike hulp aan boere
Möller verwag dat besprekings oor hoe om boere te help om moontlik dié verlore inkomste van iewers af te verhaal, binne twee of drie weke sal begin. “Baie van die verliese het nog nie begin realiseer nie, en hierdie tipe besprekings kan eers begin sodra ‘n bepaalde bedrag daaraan gekoppel kan word.”
Volgens Möller moet strenger wetgewing oor stakings in plek wees om die primêre sektore teen sulke astronomiese verliese te beskerm. “Strenger wette moet ingestel word, veral soos hier waar ‘n staatsbeheerde monopolie ter sprake is waar stakende werkers dinge kan lamlê. En die klassifikasie van broodnodige dienste, waarvoor strenger wetgewing ten opsigte van stakings geld, moet ook nagegaan word.”
28 Mei 2010