
Mnr. Jan van der Merwe van Neethlingshof het met 97,5 punte as wenner uit die stryd getree.
“’n Snoeier bepaal wat die oes aan die einde van die jaar gaan wees. Hoe beter jy snoei, hoe minder suierwerk het jy. Dit is ook ’n vaardigheid wat gehalte en opbrengs aanhelp,” het mnr. Christo Hamman, wingerdboukundige by Blaauwklippen gesê.
Die idee vir ’n snoeikompetisie het drie jaar gelede op dié plaas ontstaan.
In die verlede was snoei-opleiding ’n leemte in die bedryf, ten spyte van die belangrikheid van die praktyk. Kaap Agri, VinPro en Felco bied deesdae snoeikursusse in die onderskeie wynstreke aan. Dit sluit onder meer skerinstandhouding en verskillende snoeitegnieke in.
Mnr. Johan van Rensburg, takbestuurder van die Agrimark op Stellenbosch, sê die plan is om waarde op plase toe te voeg deur snoeivaardighede te verskerp en uiteindelik wyndruiwe se gehalte en opbrengs te verhoog.
Die deelnemers word as die beste snoeiers op hul onderskeie plase beskou. Elke deelnemer het ’n ry gekry om binne ’n sekere tyd te snoei. Hul tegniek en vaardigheid is beoordeel.
“Ons probeer kyk of die deelnemers verstaan en dink oor wat om te doen,” het mnr. Johan Viljoen, wingerdboukundige by VinPro en een van die beoordelaars, gesê.
“Spasiëring, skoonsnoei en netheid is belangrik. Die standaard lyk vanjaar baie goed, maar hier is tog verskille tussen die ouens.
“Die res van die jaar se werk hang af van hoe goed of swak jy snoei. Dit bepaal wat in die bottel gaan eindig.”
Onderskrif: Mnr. Jan van der Merwe (voor) van Neethlingshof word as Stellenbosch se beste snoeier beskou na afloop van ‘n snoeikompetisie. Agter staan mnre. Johan Viljoen (beoordelaar), Johan van Rensburg (Agrimark) en Christo Hamman (Blaauwklippen). Foto: LUCILLE BOTHA