
Stellenbosch – sekerlik Suid-Afrika se bekendste wynbaken – se volhoubaarheid as wynproduserende gebied het onlangs weer onder die vergrootglas gekom en die prentjie wat geskets is lyk nie goed nie.
Mnr. Erhard Wolff, hoofwyn- en druifaankoper van Distell, het by die onlangse Onafhanklike Wingerdbouers se jaarvergadering op dié dorp gesê arbeidsbesparende maatreëls en innoverende boerderypraktyke – soos alternatiewe opleistelsels – is twee aspekte wat Stellenbosse boere sal help om die wynwa deur die drif te trek.
Stellenbosch het in 2010 gemiddeld 6,5 t per ha geoes, wat dit een van die laagste produksiestreke in die land maak. Met ‘n gemiddelde produksiekoste van R3444/t is dit ook een van die duurste produksiestreke.
Hy verwag nie dat dit volgende jaar beter gaan lyk nie en voorspel ‘n horisontale prysbeweging. Ongelukkig gaan insetkoste nie die neiging volg nie en aanhou klim.
Arbeid is grootste koste-item
“Die grootste koste-item bly arbeid. Alle aksies rondom kostebesparing moet dus op arbeid gefokus wees. Baie keer spaar produsente met spuitkoste, maar dit kan veroorsaak dat hy op die ou einde nie die nodige opbrengs kry nie.”
Wolff het ook gesê boere moet die som gaan maak oor wat hul opbrengs per ha moet wees om gelyk te breek. Dit kom neer op tussen 12 en 14 t per ha – wat nie sommer in dié gebied gebeur nie.
“Volhoubaarheid is dus werklik onder druk,” sê hy. “Ons kan volhoubaarheid verbeter deur volhoubare produksie te verbeter of deur koste te verlaag sonder om gehalte in te boet.”
Een manier sal wees om alternatiewe opleistelsels te gebruik. Met die huidige vertikale lootposisioneringstelsel (VSP) sukkel produsente om te oorleef. Distell het egter proewe in die Durbanville-area met onder meer die Smart Dyson-stelsel gedoen. Dit het opbrengs met tot 40% gelig en die gehalte van die druiwe het verbeter. Snoeikoste het ook afgeneem. Met die Smart Dyson-stelsel is die wingerdblokke meer in balans. Daar is dus meer lote en uiteindelik meer korrels aan die stok. Waar die VSP-stelsel eers na 19 jaar op ‘n gelykbreekpunt is, breek die SmartDyson-stelsel binne ‘n dekade gelyk.
Wolff sê dis makliker om wingerd volgens die Smart Dyson-stelsel te vestig as om dit oor te skakel.
6 Desember 2010