
’n Ewige student, mentor aan vele en ’n geesdriftige ambassadeur vir die Stellenbosse wynstreek. Só word Pienaar, ’n legende in wynkundige kringe, in ’n huldeblyk op Vinpro se webwerf beskryf.
Hy sou op 25 Julie sy 80ste verjaardag vier.
Pienaar is in Stellenbosch gebore en getoë. Hy het aan Paul Roos-gimnasium gematrikuleer en die graad BSc in wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het later BScHons aan die Universiteit van Pretoria en verskeie bestuurs- en bemarkingskwalifikasies verwerf. Volgens Vinpro het hy meer as 40 jaar lank leiding en raad aan wynplase gebied.
Pienaar het sy loopbaan as junior navorser by die Landbounavorsingsraad se Nietvoorbij-kampus op Stellenbosch begin. Daarna is hy as voorligtingsbeampte by die Wes-Kaapse departement van landbou aangestel. Later is hy tot hoofvoorligtingsbeampte vir die Stellenbosch-streek bevorder. Hy was die destydse KWV se voorligtingsbeampte vir wynkunde en streeksbestuurder, asook wynboukonsultant vir die Stellenbosch-streek by Vinpro tot sy aftrede in 2010.
Mnr. Francois Viljoen, bestuurder van die Gen-Z-wingerdprojek en een van Pienaar se voormalige kollegas by Vinpro, sê hy was ’n sterk, stil mens wat ’n noemenswaardige impak op wynboukunde in Suid-Afrika gemaak het.
“Hy was ’n wingerdboukundige in murg en been, maar het homself ook toegerus om wyn te kan evalueer. Hy het ons geleer dat goeie wyn in die wingerd gemaak word, maar ook klem gelê op die vermoë om die gehalte van die eindproduk te kan evalueer en te weet wat jou teikenmark se behoeftes is.
“Ek eer hom as ’n baanbreker in ons bedryf met ontsaglike kennis wat dit altyd graag wou deel.”
Volgens Vinpro het Pienaar ’n belangrike rol in die wynbedryf gespeel deur sy betrokkenheid by verskeie komitees en organisasies, onder meer die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging. Hy was ook een van die eerste lede van die Wes-Kaapse wingerdbesprekingsgroep en ’n stigterslid van ses wingerdstudiegroepe vir Stellenbosse produsente.
“Onder sy leierskap het ’n reeks bestuurskursusse vir wyndruifprodusente die lig gesien. Hy het wynkundige notas vir die Cape Wine Academy se sertifikaat- en diplomakursusse geskryf en gereeld as eksaminator vir Cape Wine Master-studente opgetree. Hy het ook sy omvangryke kennis in 28 plaaslike en internasionale publikasies gedeel.”
Pienaar was ’n medestigter, deel van die bestuurspan en later erelid van Pinotage SA. In 2021 is hy as een van die Veritas-toekennings se lewende legendes aangewys.