
Me. Mariëtte Kotzé, groepsbedryfsbestuurder by Hortgro, bestempel Suid-Afrikaners as “swak verbruikers van vrugte”.
“Dis ’n area waaraan ons kan werk. Die gemiddelde persoon eet 27 appels per jaar. Pruime eet ons maar ses per jaar,” het sy op Hortgro se mediadag in die Paarl gesê.
Mnr. Jacques du Preez, hoofbestuurder van handel en markte, het gesê dis ’n bron van kommer, maar ook ’n goeie geleentheid.
“Ons eet minder as vyf pere per persoon per jaar in Suid-Afrika. Ons kyk dus na ’n bewusmakingsveldtog op die plaaslike mark. Dit sal ’n groot verskil as ons die druk kan afhaal van die uitvoermark,” het hy gesê met verwysing na logistieke probleme in onder meer hawens. Dit was tydens die internasionale peersimposium op Stellenbosch.
Kotzé glo ’n groter klem op die plaaslike mark sal ’n “redelike vraag” skep.
Nuwe markte vaar goed
Suid-Afrikaanse produsente en uitvoerders het die afgelope 16 jaar hulself uitstekend van hul taak gekwyt om nuwe markte vir kern- en steenvrugte, waarvan die oeste deesdae aansienlik groter is, te ontsluit.
“Die groei was veral na Afrika, die Midde- en Verre Ooste,” het Kotzé gesê.
Volgens Du Preez was dit baie belangrik om hierdie markte buite Europa te ontgin. “Ons ding mee met ander lande en voorraad in die Noordelike Halfrond en die bemarkingstydgleuf het al hoe kleiner geraak die afgelope jare.”
Hoewel Afrika die belangrikste mark vir die appelbedryf is, is dit nog ’n beperkte afsetplek vir pere.
“Dis weens die bederfbaarheid daarvan en gebrekkige infrastruktuur in die mark. Namate Afrika ontwikkel en infrastruktuur verbeter, sal daar hopelik ook geleenthede ontstaan.”
Hy glo die skuif na die Verre Ooste en Asië sal voortduur.
“Die Midde-Ooste is gevoelig. Suid-Afrika is die belangrikste verskaffer daar, maar ons moet dit reg bestuur en nie te veel of te min verskaf nie.”
Kotzé sê die groei in Afrika, Verre en Midde-Ooste sou nie moontlik gewees het as die bedryf nie behoorlik navorsing gedoen het oor die mark en handel nie.
“Ons moes ook aan die produksiekant seker maak ons produseer die produkte wat die markte wil hê. Navorsing is dus baie belangrik om die markte oop te hou, asook risikobestuurstelsels om mense te verseker van voedselveiligheid.”
Die toestemming wat Suid-Afrika in 2016 gekry het om appels na China uit te voer, het ook gehelp. Pere het ook verlede jaar marktoegang gekry, en sy glo dit sal ’n sterk alternatiewe mark vir peerprodusente meebring.
“Ons het die afgelope ses jaar sterk handelsmerke begin bou op daardie mark.”
Die bedryf het ook verlede jaar toestemming gekry dat die verpligte opbergingsperiode om vrugte na Indië uit te voer, kan deel uitmaak van die vervoerperiode.
“Dit laat ons toe om ’n sekere marktydgleuf te benut.”
Die bedryf spits hom ook toe daarop om Indonesië, Maleisië en die Filippyne as markte uit te brei.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.