
“As die uitstekende reënval in die begin van die somer oor die hele suiker-produksiegebied in die nuwe jaar kan aanhou, dan voorspel ek nóg ’n uitstekende oes vanjaar,” sê mnr. Suresh Naidoo, ondervoorsitter van die Suikerrietkwekersvereniging.
Suikerrietboere het verlede jaar bykans 2,2 miljoen ton suiker geproduseer. Naidoo sê die meulenaars kan hulself vanjaar voorberei vir niks minder nie as nóg 2,2 miljoen ton.
Dít is goeie nuus vir ’n bedryf wat hard baklei teen goedkoop invoer. Die bedryf het by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) aansoek om ’n tariefverhoging gedoen. Daarmee sal die dollargebaseerde verwysingsprys tot $764 per ton (ongeveer die produksiekoste van suiker in Suid-Afrika) verhoog en dit gaan ’n belasting van $264/ton op ingevoerde suiker beteken.
“Die aansoek behoort vroeg vanjaar deur die Departement van Handel en Nywerheid verwerk te word. Ons hoop dat die Regering die noodsaaklikheid van só ’n tarief sal besef vir ’n bedryf wat ’n pionier is in bemagtiging en grondhervorming,” sê Naidoo.
Mnr. Charl Senekal, ’n suikerrietboer van Pongola in die noorde van KwaZulu-Natal, meen genoeg reën het op die regte tyd geval. “Ons hoop maar net dat die prys sal herstel. Dit lyk egter asof daar ’n goeie kans is dat die tariefverhoging goedgekeur sal word. Ek dink nie die Regering kan bekostig om 15 000 werkgeleenthede in die gedrang te bring deur die bedryf verder onbeskermd te laat nie,” sê hy.
Die nuwe jaar bring ook heelwat nuwe geleenthede vir die suikerbedryf. Regeringsbeleid ten opsigte van kragopwekking en biobrandstof is volgens Naidoo die enigste struikelblok wat tans tussen die bedryf en ontwikkeling in dié nywerheid staan.
“Wanneer die Regering sy beleid oor dié twee aspekte verduidelik, sal die suikerbedryf ’n groot belanghebbende in die elektrisiteitsopwekking en biobrandstofbedryf wees.” Hierdie vooruitsig gaan hand aan hand met die belegging van sowat R5 miljard wat die Amerikaanse landboureus Bunge saam met Senekal in die Makhathinivlakte beoog. Volgens Senekal behoortonderhandelinge vir dié belegging eersdaags afgehandel te wees.