
Die Hemel-en-Aarde-vallei in die Overberg is lank nie meer slegs bekend vir sy Pinot noir- en chardonnay nie maar ook nou vir sy rooiversnitte.
Rooiwyne uit die Hemel-en-Aarde-vallei het in die Hemel-en-Aarde-rooiversnituitdaging gepresteer. Luidens ’n verklaring is die uitdaging gesamentlik deur PSG Konsult en die Hemel-en-Aarde-wynverbouvereniging aangebied.
Die gebied is trots daarop dat sy rooiwyne gepresteer het ten spyte van die feit dat hy vir sy Pinot noir- en chardonnay bekend is.
Wyne van die drie Hemel-en-Aarde-wynwyke – Hemel-en-Aardevallei, Bo-Hemel-en-Aardevallei en Hemel-en-Aarderand – is by Creation Wines aan gaste van PSG Konsult voorgesit.
Die rooiwynversnitte van die Wes-Kaap is saam met internasionale versnitte, soos Niepoort Batuta 2007, Yalumba The Signature 2006 en Saint Cosme Cotes du Rhone “Les Deaux Albion 2008”, aangebied.
Opgeweeg
Die drie beoordelaars, mnr. Miguel Chan, groepsommelier van die Southern Sun-hotelgroep, me. Ginette de Fleuriot, Kaapse wynmeester en mnr. Frans Smit, keldermeester van Spier-wyne, het 14 rooi versnitte uit die Hemel-en-Aardestreek in ’n blindeproe-sessie opgeweeg teen die ander nege rooi versnitte wat ingeskryf is.
Mount Babylon SMV 2008, ’n versnit van syrah, malbec en viognier van mnr. Johan Holtzhausen het met die louere weggeloop, en Creation se Syrah Grenache 2009 was tweede. Mnr. Johan Arnoldus Pretorius van Hermanuspietersfontein was teenwoordig om te sien hoe sy naamgenoot “Arnoldus” 2007 die derde plek inneem.
“Ek is in my skik met die prestasie van die Hemel-en-Aarde-wyne en ons sal saam met PSG Konsult werk om die konsep van die uitdaging verder uit te bou,” aldus me. Carolyn Martin, voorsitter van die Hemel-en-Aarde-wynkwekersvereniging.
“Die PSG Konsult/Hemel-en-Aarde-rooiversnituitdaging toon dat hoewel die aard van beleggings en die wynbedryf van mekaar verskil, daar ’n gemeenskaplike fokus is op gehalte en prestasie,” lui die verklaring.
26 September 2011