Die soekenjin Google en die sleutelwoord
"superfoods" het 'n
Stellenbosse ingenieur met 'n belangstelling
in voedselproduksie
aan die dink gesit.
"Ek het opgelees en agtergekom sampioene
het wonderlike karakteristieke (van
die sogenaamde supervoedselsoorte). Die
Ooste verstaan dit al 2 000 jaar lank. Amerika
en Europa se sampioen-markte beskik
ook oor goed gevestigde eksotiese kultivars,"
vertel mnr. Schalk de Beer, besturende
direkteur en eienaar van Nouvelle
Mushrooms.
Superkos is voedselprodukte wat gelaai
is met voedingstowwe en dikwels as wonderkos
beskou word. Eksotiese sampioene
bevat baie beta-glukeen - 'n middel wat die
mens se immuniteitstelsel ondersteun.
Sowat drie jaar gelede het De Beer shiitake-
sampioene ('n sampioen van Oos-
Asiatiese oorsprong met 'n tipiese umamigeur,
oftewel effens souterige smaak) vanaf
Nederland begin invoer, maar probleme
het bly opduik.
Die tydsverloop om produkte per lugvrag
in Suid-Afrika te kry verkort die
rakleeftyd, dit was 'n groot probleem en
boonop duur ook.
Dit was nie lank voor hy besluit het om
die sampioene self te produseer nie. Sy uitgangspunt
was nog altyd om tegnologie na
die voedselbedryf te bring. Die produksie
van shiitakes het netjies in dié uitdaging
gepas.
"Ek het reeds in die 1980's die idee gekry
die vlak van voedselprosessering is
nie naastenby op dieselfde vlak as byvoorbeeld,
die petro-chemiese bedryf nie."
Sedertdien het hy betrokke geraak by
vrugtesap- en soja-aanlegte, rooibosteeprosessering
en anti-oksidant-ekstraksie.
So, die voedselwêreld was nie heeltemal
vreemd nie.
Hy het die ingevoerde shiitaki's hoofsaaklik
aan restaurante verskaf - wat op
hulle beurt gehelp het om bewustheid onder
verbruikers te skep. Sy mark was dus
jonk,maar het gedy.
Vandag produseer sy maatskappy sowat
350 kg shiitake- en koningoestersampioene
per week.Dit maak hulle die grootste plaaslike
verskaffer van eksotiese sampioene in
Suid-Afrika. Hulle hoop om teen einde Mei
vanjaar produksie op te stoot tot 1 000 kg
per week.
Die produksie op eie bodem het begin
met 'n lisensiëringsooreenkoms tussen
Nouvelle Mushrooms en CNC Exotic
Mushrooms in Nederland. Laasgenoemde
voorsien De Beer van substrate en sisteme
vir die eksotiese sampioene.
"Ek het terug gekom en hul tegnologie
in Suid-Afrikaanse toestande toegepas.
Oorsee kweek hulle die sampioene op eikehout-
skyfies, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar
is nie en plaaslike bome het nie die
regte voedingswaarde nie. Ek moes dus 'n
grondstof kry wat gaan werk én volhoubaar
is."
Dit was 'n moeilike taak, aangesien shiitake-
sampioene baie stadig groei. Dit het
elke keer meer as vyf maande gekos om
uit te vind of die getoetste grondstof werk
en die verlangde opbrengs verseker, al dan
nie. Uiteindelik het 'n mengsel van verskillende
roumateriale die truuk gedoen om as
gasheer vir die sampioene te dien. Dié omgewingsvriendelike
substraat is verder ontwikkel
om sampioen-bederf te voorkom.
Dit word by Nouvelle Mushrooms se
komposkamers in Stellenbosch vervaardig,
terwyl die inkubasie- en groeikamers in die
Hemel en Aarde-vallei (tussen Caledon en
Hermanus) geleë is.
"Ons het 'n paar dinge in gedagte gehou
toe die stelsel ontwikkel is. Volhoubaarheid
was uiters belangrik. Twee oudits
is op die fabrieke gedoen om te verseker
Woolworths een van die kieskeurigste
kleinhandelaars in die land, se standaarde
(ometiese en tegniese higiëne te bestuur) is
in plek. Laastens het ons klem gelê op die
etiese ontwikkeling van diemaatskappy en
15 werknemers."
Sowat 60% van die sampioene word aan
Woolworths gelewer.Die oorblywende 40%
gaan na restaurante, hotelle en word ook
aangewend vir verwerking.
"Ons glo in die ontwikkeling van die
eksotiese sampioen-mark in Suid-Afrika,"
sê De Beer.
Volgens hom kan hulle nou daagliks
vars sampioene lewer. Dit waarborg 'n
langer rakleeftyd aan die kleinhandelaar
en verbruiker. De Beer glo ook dit verbeter
die gesondheidswaarde van die sampioene
wat dikwels met die verloop van tyd verlore
gaan.
Die ander voordeel is koste-verwant.
Die sampioene is 'n nismark, en dus redelik
duur, maar deur die hoë invoerkoste te systap
kan hulle die koste van die sampioene
in die mark afdruk.
Internasionaal word shiitakes vir sowat
R70 per kg verkoop. In Suid-Afrika is die
plaashekprys ongeveer R90 per kg.
"Ons is 'n kostedrywer en wil binne die
volgende jaar die prys afbring na die internasionale
prys toe. Hoe gaan ons dit doen?
Met 'n skaalekonomie," sê hy en verwys
weer na hul uitbreidingsplanne wat reeds
in 'n gevorderde stadium is.
'n Bemarkingsveldtog om kosliefhebbers
en verbruikers bewus te maak van
shiitakes wat trots Suid-Afrikaans verbou
word, is onderweg. Hierin sal ook klem
gelê word op die supervoedsel-waarde van
die sampioene.
In die Ooste is shiitakes by verreweg die
gewildste sampioene, maar in Amerika en
Europa kraai wit sampioene nog koning.
Eksotiese sampioene het hier reeds tussen
5% en 10% van die veld gewen. In Suid-
Afrika is minder as 1% van alle sampioene
wat geëet word eksotiese soorte.
Volgens die ooreenkoms met CNC kan
Nouvelle Mushrooms sewe spesies plaaslik
kweek. Hulle hoop teen die einde van die
jaar groei al sewe spesies in hul inkubasiekamers,
sê De Beer.
Die toekoms beloof ook om opwindende
verwerkings produkte op te lewer.
"Dit is nie maklik nie. Die kweek van
shiitakes is ontsettend ingewikkeld. Hy is
'n stadige groeier en het soveel kompetisie,
dit is 'n konstante stryd om hom te laat leef
en goeie opbrengste te kry," sê De Beer.
Die substraat word in 4 kg-plastieksakke
verpak. Dié sak is 'n lewende organisme
wat asemhaal en suurstof en koolstofdioksied
deurlaat. Bakterieë en swamme, wat
met die sampioene kompeteer, kan dit egter
nie binnedring nie.
Ná twee weke in die sak, en as daar geen
teken van kontaminasie is nie, begin die inkubasietydperk
van sowat 12 weke tot 16
weke. Elke sak word gemerk en teen sowat
25 °C geberg.
"As daar kontaminasie voorkom, kan
ons na die voorraadnommer gaan en die
probleem soek."
Mettertyd vorm die kompos 'n natuurlike
baslagie aan die buitekant. Die inkubasietydperk
is dan verby. Dit word met
temperatuur geskok (vinnig afgekoel) om
die groei te stimuleer. Binne tien dae vorm
die steeltjies, en die sampioene word vir
sowat 5 dae gedra. Die shiitakes word volgens
twee graderings - 35 mm tot 50 mm en
50mm tot 75mm - geoes.
"Ons het nog nie genoeg statistieke om
te weet watter grootte die gesogste is nie.
Die heel kleintjies of heel grotes word geprosesseer
of pesto van gemaak. Maar dit is
'n baie klein persentasie," sê De Beer.
'Superkos' bult spiere
Die mark vir super-kossoorte en drankies
groei teen 'n duiselingwekkende spoed,
het die internasionale markanalise-.firma
Datamonitor onlangs bevind.
Luidens die verslag getiteld Super
Food and Drinks: Consumer Attitudes to
Nutrient Rich Products toets verbruikers
toenemend produkte op grond van 'n
"supervoedsel"-etiket. In antwoord hierop
doen kleinhandelaars hul bes om regdeur
die jaar produkte (veral vars vrugte) te
voorsien wat gewoonlik net by spesialiswinkels,
soos deli's en gesondheidswinkels,
beskikbaar was.
Superkos is sekere kossoorte wat as
nutrient-kragsentrales beskou word, en
waarvan daar hope in elke winkeltrollie
en kosblik gelaai behoort te word.
Bloubessies, appels, donker sjokolade,
hawermout, kiwi's en bone het elk 'n plek
op dié lys. Sampioene se superkrag lê in
beta-glukeen (wat die mens se immuniteitstelsel
stimuleer). Eksotiese sampioene,
soos shiitake, enoki, zhuling en reishi,
het almal kankerwerende en anti-virale
eienskappe.
Volgens die verslag is granate dié
supervoedsel van die oomblik - dié vrugte
word glo daagliks deur talle hoë-profiel
glanspersone geëet. Die toename in
produkte met 'n granaatbasis was nie net
in Amerika nie. In dié land is 'n groei van
383 % die afgelope twee jaar gesien in
die bekendstelling van nuwe granaatprodukte.
In Wes-Europa het dit ook bykans
verdriedubbel tussen 2001 en 2006.
Groentee-verkope het met meer as 30%
in Amerika geklim in dié tydperk.
"Dit is nie net die gesondheidsvoordele
van granate en eksotiese bessies (veral
goji-bessies) wat help om die opname
van meer eksotiese supervoedsels te
versnel nie. Soos kopers meer waaghalsig
raak met die geure wat hulle uittoets,
is die jagtyd oop om die nuwe vrug of
bestanddeel te vind wat hul verbeelding in
komende jare kan aangryp."
Die verslag waarsku egter verbruikers
is baie meer bewus van die belangrikheid
van 'n gebalanseerde en gevarieerde
dieet, daarom behoort supervoedsels nie
as 'n "towerproduk" bevorder te word nie.
Slim bemarkers en produsente sal eerder
konsentreer op die produk se rol in 'n
gesonde, gebalanseerde dieet.
Landbouweekblad, 15 Februarie 2008