
Sowat drie weke voordat Suid-Afrika sy laaste sitrusuitvoer van die seisoen na Europa stuur, het die Europese Unie (EU) se vyfde ingryping vir swartvleksiekte plaasgevind. Die EU het vroeër weens die voorkoms van die siekte op dié seisoen se sitrusoeste die aantal ingrypings aansienlik verminder.
Volgens die EU se voorskrifte sou strenger stappe volg ná die vyfde ingryping. Die Sitruskwekersvereniging sê die vyfde ingryping was op 23 Augustus 2013. Die bedryf het egter nog nie enige verdere nuus oor strenger maatreëls nie. Die Ministerie van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Handel en Nywerheid het ook hul gewig ingegooi by die kwessie.
Miljoen dollar se probleme
Mnr. Hannes de Waal, direkteur van bemarking van die Sondagsrivier Sitrusmaatskappy (SRCC), sê uitvoer na Europa sal oor twee weke begin afneem. “Ons hoop dat die maatreëls nie in dié tyd verskerp nie.” Die bedryf is wel bekommerd oor die verskepings wat tans op die see is, en die invloed van die ingryping op dié uitvoer.
De Waal het vroeër ’n inkomstebegroting vir sitrusboere in die Sondagsriviervallei opgestel. Hy sê hy het vir die ergste scenario aangaande swartvleksiekte bereken dat dié probleme dié omgewing sowat een miljoen Amerikaanse dollar miljoen kan kos, “en ons gaan baie naby daaraan kom.” Die vallei lewer 8% van die land se sitrus-oes.
Een van sitrusboere se grootste probleme dié seisoen was om ingrypings te probeer vryspring. Dit het teen ‘n baie hoë koste gelei tot die herverskeping van reeds gepakte vrugte waarin die siekte moontlik voorkom, na ander afsetpunte.
Ander lande ook geraak
De Waal het Argentinië en Brasilië onlangs besoek. Hy sê die aantal ingrypings in dié lande is ook verminder. “Argentinië het wel nog 17 ingrypings, maar Brasilië het ook net vyf.”
Mnr. Justin Chadwick, hoof uitvoerende beampte van die Sitruskwekersvereniging, het vroeër aan Landbou.com gesê hulle sukkel al 20 jaar lank om die EU te oortuig om maatreëls aangaande dié siekte te verslap. Navorsing het bevind dat die siekte nie deur reeds geplukte vrugte versprei kan word nie. Die EU het vroeër die jaar eers gesê dat hy op dié navorsing sal ag slaan.
Die plaaslike bedryf fokus volgens Chadwick op die volgende seisoen en die voorkoming van ’n soortgelyke situasie.