
Oor baie jare was tabak een van die belangrikste produkte in die Suid Afrikaanse landbou. Baie hektare tabak is aangeplant en boere het oorwegend goeie inkomste daaruit verdien.
Die vraag wat nou ontstaan is hoe die druk wat op die gebruik van tabakprodukte uitgeoefen was en steeds word, die produksie daarvan beïnvloed het.
Oppervlakte aangeplant het oor die afgelope 40 jaar dramaties gedaal. Vanaf 1970/’71 tot en met 1985/’86 was daar konstant meer as 30 000 hektaar aangeplant met hoogtepunte in 1976/’77 (46 000 hektaar) en 1977/’78 (47 000 hektaar). Vanaf 1986/’87 tot en met 1992/’93 het aanplantings rondom 25 000 hektaar gewissel.
In die volgende dekade, van 1993/’94 tot 2003/’04 was dit tussen 10 000 hektaar en 15 000 hektaar. Sedertdien was die oppervlakte geplant minder as 10 000 hektaar met die laaste drie jaar (2007/’08 tot 2009/’10) minder as 5 000 hektaar. Dit beteken dat hierdie eens florerende boerderye met meer as 90% agteruitgegaan het.
Tabakproduksie toon egter ‘n ietwat ander beeld. Vanaf 1970/’71 tot 2002/’03 was produksie meeste van die tyd bo 30 000 ton. In die drie jaar 1976/’77 tot 1978/’79 was dit selfs bo die 40 000 ton. Daar was egter ‘n ernstige duik in die produksie in die vier jaar van 1993/’94 tot 1996/’97 toe dit gedaal het tot heelwat laer as 30 000 ton. Na die 37 000 ton van 2002/’03 het die groot ineenstorting egter begin.
Produksie het in 2003/’04 gedaal tot 25 000 ton, en tot ‘n skamele 9 000 ton in 2007/’08. Hoewel dit daarna effens herstel het, bly dit egter laag – om en by 10 000 ton. Die groot ineenstorting het dus later gekom as by die hektare aangeplant maar is in die orde van sowat 80%.
Opbrengs
Uit bostaande twee stelle statistiek volg daar interessante afleidings.
Gedurende die eerste dekade was die opbrengs per ton,met een uitsondering, minder as een ton per hektaar.
Daarna wissel dit vir ongeveer 15 jaar tussen 1 en 1,5 ton per hektaar tot en met 1995/’96.
Vanaf 1997/’98 tree daar egter ‘n groot verbetering in en bly die opbrengs konstant bo 2 ton per hektaar met 2002/’03 en die jongste oesjaar die beste nl. 2,8 ton per hektaar.
Navorsing en beter boerdery praktyke het sekerlik ‘n bydrae gelewer tot die verbetering in opbrengs, maar my afleiding is egter dat die druk op tabakboere hoofsaaklik daartoe gelei het dat daardie boere wat, om watter rede ook al, nie ‘n groot of goeie opbrengs kon lewer nie, eerste uit die bedryf getree het en dat die bittereinders wat nou nog produseer juis die boere is wat die goeie opbrengs per hektaar lewer.
Slegs beperkte statistiek oor internasionale handel die afgelope dekade was geredelik beskikbaar maar gee nogtans ‘n goeie beeld van die bewegings. Die uitvoer van onverwerkte/half verwerkte tabak (rooi lyn in figuur 1 hieronder) toon ‘n baie geleidelike toename met slegs 2001 wat besonder hoog was. Dit dui daarop dat plaaslike tabak grootliks plaaslik verwerk word. Die invoer van tabak toon egter ‘n baie skerp toename wat daarop dui dat die groot afname in plaaslike produksie vanuit die buiteland aangevul word. Die blou stafies toon die uitvoer van verwerkte tabak (sigare, sigarette ens.). Dit blyk baie wispelturig te wees. Van 2000 tot 2002 en weer van 2006 tot 2008 is meer as R500 miljoen uitgevoer terwyl in 1998, 2003 en 2004 minder as R300 miljoen uitgevoer is. Invoere van verwerkte tabak is hoofsaaklik eksklusiewe produkte en redelik klein in omvang.
Figuur 1
In- en uitvoer van tabak
Tabakpryse het aanvanklik baie geleidelik gestyg. Van 1970 tot 1985/’86, ‘n periode van 16 jaar, bly die tabakprys onder R5.00 per kg. Van 1985/’86 tot 1990/’91 wissel dit tussen R5.00 en R10,00 per kg. Van 1994/’95 styg die prys heelwat skerper tot 1997/’98 toe dit R 18,74 per Kg beloop het.
Daarna wissel dit heelwat tot in 2002/’03 toe dit R20,03 per kg was. Die prys daal vir ‘n paar jaar maar herstel dan dramaties tot R28,86 per kg. Hierdie pryse sluit slegs die produsent se bruto inkomste in en nie die stygings in aksynsbelasting en die winste van tabakmaatskappye in nie.
Die prys wat die verbruiker betaal vir sy rookgoedjies sal dus aansienlik hiervan verskil!
Figuur 2
Tabakpryse
Opsomming
Hierdie artikel het geensins ten doel om by die debat oor die voor- en nadele van tabakverbruik betrokke te raak nie, maar is slegs ‘n kliniese ontleding van die ekonomiese situasie waarin die bedryf hom bevind.
Dit is duidelik dat daar steeds ‘n redelike vraag na tabakprodukte is en waarskynlik altyd sal wees. Hoewel die bedryf as gevolg van die druk wat op hom uitgeoefen is, met meer as 80% getuimel het, is daar steeds produsente wat goeie opbrengste lewer.
Die toename in die invoere saam met die skerp styging in die prys van plaaslike tabak, dui daarop dat die bedryf dalk te veel ingekrimp het en dat daar ruimte is vir die uitbreiding van die plaaslike bedryf.
Bronne:
Kortbegrip van Landboustatistiek - 2010.
Direktoraat Landboustatistiek: Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
3 Februarie 2011