Volgens mnr. AJ Griesel, wat vanjaar die leisels as hoof van die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf oorgeneem het, was dit die tweede jaar agtereenvolgens wat boere verliese moes dra. Bykans ’n derde van tafeldruifboere was nie winsgewend nie en net nog ’n derde kon daarin slaag om gelyk te speel.
“Vir baie boere was dit een van die moeilikste jare in ’n lang tyd. Verskeie boere gaan hulself ná hierdie jaar op nie-winsgewende terrein bevind. Dit plaas ’n vergrootglas op die volhoubaarheid van die bedryf, wat R10 miljard tot R12 miljard werd is.”
Volgens hom het twee “swart swane”, die covid-19-pandemie en die konflik in Oekraïne, ’n groot aandeel daarin dat die eens vooruitstrewende tafeldruifbedryf binne jare in so ’n erge krisis gedompel is.