
Produsente en belanghebbendes het die afgelope maande verskeie planne beraam om die gehalte van hul druiwe op die plaas te verbeter. Dit sal hulle beskerm teen risiko’s wat tydens die vervoer van die druiwe kan voorkom, lui ’n verklaring deur Sati (die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryfsligaam).
Landbouweekblad het vroeër berig die vorige tafeldruifseisoen was een van die moeilikste jare nóg. Hoewel die oes groot was (tafeldruifuitvoer het die afgelope vyf jaar elke jaar geklim), het talle boere verliese gely. Produsente moes verhoogde produksie- en vervoerkoste sluk, asook eindelose logistieke probleme die hoof bied.
Sati het intussen met belanghebbendes soos Transnet, die Kaapstadse hawe, Hortgro en die Varsprodukte-uitvoerdersforum gewerk om proaktiewe planne te maak om dié probleme, veral wat logistiek betref, te oorkom.
“Heelwat werk is nog nodig om bedrywighede van wêreldgehalte in die hawe te hervat, maar ons verwag dat verbeterde kapasiteit in die Kaapse hawe wat betref mense, prosesse en toerusting, meer doeltreffendheid sal meebring in die komende tafeldruifseisoen.”
Mnr. AJ Griesel, Sati se uitvoerende hoof, sê hul lidmaatskap by Agbiz en Fruit SA het hulle gehelp om ’n impak te maak op die regte vlak.
Op die plaas
Ook op plase het produsente hul sokkies opgetrek om die beste gehalte druiwe moontlik te produseer.
Volgens mnr. Anton Viljoen, voorsitter van Sati se raad, verwag hulle dat boere meer aandag sal gee aan gehalte, wat ’n invloed kan hê op uitvoervolumes.
“Produsente se toewyding aan gehalte, deur nuwe en verbeterde praktyke, is fenomenaal.”
Veral na-oes-protokolle en produkhanteringsfunksies het aandag gekry. Inisiatiewe is gereed om die gehalte en grootte van oeste te beheer en pakskure op te knap. Sati, saam met produsente en uitvoerders, werk tans aan ’n kouekettingprojek wat die temperature tussen die pakskure en die mark dophou.
Minder gewilde kultivars moes plek maak vir meer nuwerwetse kultivars, soos wit, pitlose kultivars waarvoor verbruikers wêreldwyd ’n groot aptyt het.
Markontwikkeling
Die groter oes verg natuurlik ook markontwikkeling. Die saamgestelde jaarlikse groeikoers vir die Europese Unie was 6% die afgelope vier jaar, en 4% vir Brittanje. Dit is tradisionele markte vir die tafeldruifbedryf. Uitvoer na Kanada het egter met 19% (saamgestelde jaarlikse groeikoers) geklim die afgelope vier jaar, en vir Amerika was die syfer 40%.
“Die bedryf is gretig om dié mark verder uit te bou,” lui die verklaring en sê dat Suid-Afrika voordele bó ander lande in die Suidelike Halfrond geniet wat die afstand na Europa betref, sowel as vryehandelsooreenkomste met die Europese Unie en Brittanje.
“Dit bly ook een van ons strategiese doelwitte om die Suidoos-Asiese mark verder uit te bou. Heelwat vooruitgang is reeds gemaak in die Filippyne. Die bedryf sien ook uit daarna om China van gehalte druiwe uit Suid-Afrika te voorsien.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.