Sedert die eerste tafeldruiwe verlede Desember in koelhouers gelaai is om uitgevoer te word, het die een krisis ná die ander kop uitgesteek terwyl die byna 78 miljoen kartonhouers oor die water gestuur is. Logistiek was ’n reuseprobleem, en daar was talle klagtes oor die gehalte van Suid-Afrikaanse druiwe.
Dit was ook die tweede jaar agtereenvolgens dat boere verliese moes dra, want stygende produksiekoste het weggehol met die bedryf, terwyl pryse nog op dieselfde vlak as vyf jaar gelede is.
Só erg is die situasie dat bedryfsinligting toon ’n derde van tafeldruifboere is nie meer winsgewend nie en nog ’n derde speel net gelyk. Mnr. AJ Griesel, wat ’n paar maande gelede as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf (Sati) aangestel is, sê dit was ’n baie moeilike seisoen.