
Weens die afgelope paar dae se weeromstandighede en die reën- en stormweer wat voorspel word, het Sati besluit om volgende week nog ’n oesraming te doen.
Die hersiening van die oesraming geskied tipies in Januarie, maar in die lig van die weervoorspellings vir die volgende paar dae gaan Sati die situasie ten volle op Dinsdag 20 Desember 2022 assesseer, luidens ’n verklaring.
Die gevolgtrekkings sal waarskynlik in ’n mediaverklaring op Woensdag 21 Desember bekend gemaak word.
Sati sê weens die slegte weer sal die Noord-Kaap en Limpopo waarskynlik nie hul oorspronklik geraamde uitvoervolumes behaal nie, maar detail daaroor sal Woensdag verskaf word. Die saamgevoegde volumes van die Olifantsrivier-, Hexrivier- en Bergrivierstreek lewer histories tot 62% van die uitvoervolumes en dié streke begin nou oes.
“As ’n bedryf bly ons toegewyd daaraan om Suid-Afrika se posisie as ’n gehalte-uitvoerland in die Suidelike Halfrond te onderhou. Ná gebeure wat ’n impak op die bedryf se vorige seisoen gehad het, is ongelooflik baie werk gedoen om ons status as ’n verkose verskaffer in tradisionele markte soos die Europese Unie, Brittanje en ander markte te onderhou.
“Produsente en uitvoerders gaan voort om klante en markte in die lig van hul bedryfs- en kommersiële verpligtinge te prioritiseer.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.