Die saadmaatskappy Starke Ayres se tamatieteelprogram naby Komatipoort in Mpumalanga, 'n klipgooi van die Mosambiekgrens, het in die afgelope 18 jaar al verskeie suksesvolle nuwe kultivars die lig laat sien.
Mnr. Werner Wessels, produkbestuurder vir tamaties, groenrissies en brandrissies by die maatskappy, sê die jaarlikse tamatieboeredag op die navorsingsplaas bied aan produsente 'n geleentheid om na nuwe kultivars te kyk, vergelykings tussen kultivars te tref en gedagtes met die betrokke planttelers te wissel.
Hierdie uitruil van gedagtes is vir produsente én planttelers van onskatbare waarde omdat dit uiteindelik die rigting
bepaal waarin die teelprogram gestuur moet word.
Wessels sê aanvanklik is daar hoofsaaklik op die ontwikkeling van kultivars met 'n beperkte groeiwyse gekonsentreer. Die afgelope paar jaar is daar egter meer op die ontwikkeling van onbeperkte groeiers en
saladette- of roma-tipes gekonsentreer, met die klem op siektebestandheid en vruggehalte (dikker vrugwande, 'n verbeterde raklewe en gladder skouers met kleiner aanhegtings).
Vanjaar kon tamatieprodusente op die boeredag met verskeie nuwe kultivars kennis maak. (Let wel dat kultivars met "TF" as deel van die identifikasienommer proefaanplantings is, terwyl die naam van kultivars wat reeds kommersieel beskikbaar is, met "Star" begin.)
TF 2452. Hierdie kultivar het, soos die markleier Star 9008, 'n sterk groeiwyse. Die vrugte kan geoes word 75 tot 80 dae ná die plant uitgeplant is. Die vrugte is diep, plat tot rond en weeg gewoonlik 150 gram tot 160 gram elk. Dié kultivar is aangepas vir boere wat nie die plante wil oplei nie of oplei tot die minimum wil beperk om produksiekoste aan bande te lê. Dit bied hoë weerstand teen aalwurm, bakteriese verwelksiekte en poeieragtige meeldou.
TF 2398. Met sy onbeperkte groeiwyse behoort hierdie kultivar 'n treffer in veral die Wes-Kaap te wees, waar tamatiekromnekvirus 'n probleem is. Dié kultivar se vrugte kan geoes word 90 tot 95 dae nadat die
plant uitgeplant is. Die ronde vrugte weeg 130 gram tot 150 gram en het 'n besonder klein vrugaanhegting. Die kultivar is aangepas vir verbouing op oop lande óf onder beskerming. Dit bied sterk weerstand teen aalwurm,
die tamatiekromnekvirus en die tabakmosaïekvirus.
Star 9011. Dié kultivar is in 2005 kommersieel beskikbaar gestel. Dit het in 'n betreklik kort tydjie die markleier in sy klas geword. Hierdie kultivar het 'n kort plant,maar die vruggehalte van tradisionele tamatiesoorte met 'n onbeperkte groeiwyse. Star 9011 bied die boer diep, plat vrugte met 'n gewig van 140 gram tot 160 gram en 'n lang
raklewe. Dit bied sterk weerstand teen aalwurm, die tamatiekromnekvirus, die tabakmosaïekvirus, poeieragtige meeldou en bakteriese verwelksiekte.
Star 9036 (TF 2400) se vrugte kan geoes word 85 tot 90 dae nadat die plant uitgeplant is. Dit het 'n onbeperkte groeiwyse en is veral geskik vir gebiede waar groter vrugte en goeie gehalte belangrik is. Die diep, plat tot ronde vrugte het 'n lang raklewe en weeg 120 gram tot 160 gram. Dit het 'n sterk groeiwyse met 'n goeie blaarbedekking vir somerproduksie. Daarby bied dit weerstand teen aalwurm, die tabakmosaïekvirus en bakteriese verwelksiekte.
TF 2425. Dit is 'n proefultivar met 'n onbeperkte groeiwyse. Die vrugte is oesgereed 85 tot 90 dae nadat die plant uitgeplant is. Dit lewer ronde vrugte van 130 gram tot 170 gram, met 'n hoë gehalte regdeur die produksiejaar. TF 2425 het die vermoë om sy vrugte naby aan mekaar te set sonder om vruggrootte na die bopunt van die plant in te boet. Dit bied weerstand teen 'n breë spektrum siektes, insluitend aalwurm, die tabakmosaïekvirus, die tamatiekromnekvirus, poeieragtigemeeldou en bakteriese verwelksiekte.
TF 2411 is 'n saldette-tipe tamatie met 'n onbeperkte groeiwyse. Die vrugte kan 75 tot 80 dae nadat die plant uitgeplant is, geoes word. Die blokvormige vrugte van 'n hoë gehalte weeg 90 gram tot 110 gram en het 'n uitstekende smaak. Die kultivar behoort goed te vaar in die voorafverpakkingsmark, waar gehalte, eenvormigheid en smaak belangrik is. Dit bied weerstand teen aalwurm en die tabakmosaïekvirus.
Star 9065. Dié taamlik vinnige kultivar is reeds kommersieel beskikbaar. Die vrugte is binne 75 tot 80 dae oesgereed. Hierdie saladette-tipe tamatie het 'n beperkte groeiwyse, maar 'n verlengde dratyd. Die vrugte is veral geskik vir die vars- of smousmark. Die blokvormige, silindriese vrugte weeg 90 gram tot 120 gram en die
dik wande dra tot 'n verlengde raklewe by. Star 9065 bied van die beste weerstand teen blaarsiektes van alle kultivars wat tans beskikbaar is. Dit is aangepas vir boere wat nie hul tamaties wil oplei nie om die produksiekoste te beperk. Die kultivar bied sterk weerstand teen aalwurm, die tabakmosaïekvirus, poeieragtige meeldou en 'n mate van weerstand teen bakteriese verwelksiekte.
Boere kan nou reeds 'n aantekening maak dat die volgende Komatipoort-tamatiedag in die eerste week van September volgende jaar gehouword. Te oordeel na die suksesse van die afgelope drie jaar gaan hierdie dag in die toekoms nóg groter en beter raak. Daar word reeds beoog om in die toekoms ook ander groentegewasse
in te sluit. "Dié dag kan dus tot 'n volwaardige algemene groenteboeredag ontwikkel," sê Wessels.
Landbouweekblad, 30 November 2007