Die teebosse, wat vir net meer as 1 800 ha weerskant van die pad saam met die heuwels golf, vertel ’n storie van frustrasie én hoop.
Gewelddadige arbeidsonrus het vir etlike jare alle werksaamhede op die Magwa-teeplantasie tot stilstand gebring. ’n Teeplaas wat 1,2 miljoen kg tee geproduseer het en ’n inkomste van R65 miljoen gehad het, het op die ashoop gelê.
Tog lyk sakevooruitsigte vandag vir dié plantasie baie blinker. Daar is nuwe en beter planne op die tafel. Magwa Enterprise Tea (MET), wat die Magwa- en Majola-teeplantasie in die omgewing bestuur, is die grootste en enigste funksionerende teeboerdery in Suid-Afrika.