Daar is sterk teenstand in die aartappelbedryf teen die Landbounavorsingsraad (LNR) se plan om 'n geneties gemodifiseerde (GM) aartappelkultivar op die mark te bring. Die bedryf meen dit kan plaaslike verbruik en uitvoer skaad.
Die LNR het 'n GM-kultivar, SpuntaG2, met weerstand teen aartappelmot geteel en gaan die staat nou vra om 'n veiligheidsevaluering te doen en die aartappel algemeen bekend te stel.
Dr. Ben Pieterse, bestuurder van navorsing en ontwikkel by Aartappels SA, sê die algemene beskikbaarstelling van só 'n kultivar sal net beperkte voordele inhou, wat nie opweeg teen die potensiële skade wat dit aan die aartappelbedryf kan doen nie.
Onsekerheid
Die organisasie ondersteun biotegnologie en die voordele wat dit vir die bedryf kan inhou.
Hy is egter bekommerd weens onsekerheid oor die potensiële ongunstige publisiteit vir aartappels en die reaksie van verbruikers sodra dit bekend word dat GM-aartappels verbou word. Dit kan ook die uitvoermark benadeel.
Pieterse sê hulle versoek die LNR dus om sekere aspekte eers af te handel voordat 'n algehele vrystelling toegestaan word.
Dit sluit in verpligte etikettering van GM-aartappels om die verbruiker 'n keuse te gee, ontwikkeling van 'n toestel vir die betroubare opsporing van GM-aartappels en die bepaling van verbruikers se mening.
Landbouweekblad, 18 Julie 2008