
Malgas, ’n dosent in bewaringsekologie aan die universiteit se fakulteit landbouwetenskappe, het in Desember ’n doktorsgraad in bewaringsekologie verwerf met navorsing oor landelike gemeenskappe wat ’n bestaan maak uit die oes van inheemse rooibos en heuningbos in fynbosgebiede.
Sy het voorgraads argeologie en geografie aan die Universiteit van Kaapstad (UK) gestudeer. In 2006 het sy aan die UK die graad MSc behaal met navorsing wat gekonsentreer het op die volhoubare oes van wilde rooibos en die waarde van plaaslike mense se ekologiese kennis. Sy is steeds as trustee betrokke by drie gemeenskapsgebaseerde landboubewaringsinisiatiewe.
Die onderwerp van haar PhD-tesis weerspieël haar siening dat “die soeke na volhoubaarheid eintlik die soeke na gemeenskap” is. Die navorsingsidee het sy ontstaan gehad in die gemeenskapsontwikkelingswerk op die gebied van openbare argeologie waarby sy in die vroeë 2000’s in Clanwilliam betrokke was. In daardie tyd het sy betrokke geraak by kleinboere in die Suid-Bokkeveld wat wilde rooibos in die veld oes en bewaar.
“Die oes van rooibos en heuningbos uit die veld ondersteun talle landelike gemeenskappe. Daarom is dit belangrik dat ons produksie in fynbosgebiede ondersteun. Deur my navorsing het ek die plante ondersoek, en ook mense se kennis daaroor, om te wys hoe dit gebruik kan word om omgewings- en maatskaplike volhoubaarheid te behaal,” verduidelik sy.
In haar tesis plaas sy klem op die idees oor maatskaplik-ekologiese stelsels van die Nobelpryswenner en politieke ekonoom me. Eleonor Ostrom. Sy het bevind dat gemeenskaplike eiendom suksesvol bedryf kan word deur gebruiksverenigings.
Malgas het dié raamwerk gebruik om uit te wys watter aspekte die langtermynvolhoubaarheid van koöperasies in die rooibos- en heuningbosbedryf steun, en watter dit belemmer. Dit sluit onder meer volhoubare oespraktyke, die verskaffing van volhoubare lewensmiddele en die belangrikheid daarvan om die ekologiese integriteit van veldrooibos en -heuningbos te behou.
Beleid
Sy meen dit is belangrik om van die studie se bevindinge te oorweeg vir die formulering van beleid. “Die feit dat mens ’n permit in die Oos-Kaap kan kry om heuningbos in die veld te oes, maar nie in die Wes-Kaap nie, is net een voorbeeld van hoe deurmekaar institusionele reëlings is binne ’n sektor wat ’n spesie benut wat in meer as een provinsie voorkom.
“Die uiteinde is ’n moontlike skuiwergat, want tans word veldheuningbos wat in die Oos-Kaap verwerk word, nie gemonitor nie. Die oorsprong daarvan kan nie nagespoor word nie. Dit maak ook oorgrenswetstoepassing tot niet en verwater die doeltreffendheid van die Oos-Kaap se permitstelsel. Daar is dus institusionele haakplekke in die sektor.”
Malgas meen plaaslike kennis moet ingespan word om vrae rondom omgewingvolhoubaarheid, die daarstelling van beter lewensgehalte vir landelike gemeenskappe en die bewaring van inheemse fynbosspesies wat geoes word, te beantwoord.
“Ek hoop my werk kan beleidsraamwerke help skep wat die etos van plaaslike gebruikers weerspieël. ‘n Beleidsraamwerk wat nader is aan die aspirasie van boere sal bes moontlik vir hulle meer aanvaarbaar wees. Dis byvoorbeeld nodig dat mens plaaslike kennis en die monitering van plaaslike spesies insluit in bestuursplanne en protokolle rondom die oes van plante om volhoubare rooibos- en heuningbosproduksie te verseker.
“Die mense moet self deel wees van besluite.”
Malgas is die stigter van die student-gesentreerde Small Things-fonds. Dit word deur vrywilligers gefinansier en ondersteun sedert 2015 studente met klein bedrae. Besoek www.facebook.com/thesmallthingsfund vir nog inligting.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.