Die wêreldaanbod van inmaakvrugte is in die huidige seisoen heelwat kleiner as normaalweg, wat beteken dat heelwat minder vrugte vir inmaak beskikbaar is. Veral lande in die Noordelike Halfrond kyk na lande in die Suidelike Halfrond vir voorraad, maar lande soos Chili,Argentinië enAustralië se voorraad is ook laer as gewoonlik weens droogtes en koueskade.
Dit plaas Suid-Afrika in 'n taamlik gunstige posisie, hoewel skattings daarop dui dat die plaaslike bedryf ook laer oeste as in die vorige seisoen beleef, veral wat taaipitperskes en Bon Chretien-pere betref.
Mnr. Wiehahn Victor, hoofbestuurder van die Inmaakvrugteprodusente-vereniging (IPV), sê die enigste vrugsoort wat in 2007/'08 'n groter oes as in 2006/'07 behoort te hê, is Bulida-appelkose. Die verwagte finale appelkoos-oes beloop 44 500 ton, teenoor 34 938 ton in die vorige seisoen. Die grootste oes die afgelope paar jaar was in
2003/'04, toe meer as 60 700 ton Bulida-appelkose geoes is.
Wat taaipitperskes betref, is die finale oesskatting vir die huidige seisoen 148 000 ton, wat heelwat laer is as die meer
as 162 000 ton in 2006/'07. Dit is grootliks weens hael- en koueskade. Dit beteken daar is sowat 112 000 ton van dié vrugte vir die inmaakbedryf beskikbaar. Verlede seisoen was een van die bestes in 'n hele paar jaar vir taaipitperskes. In 2005/'06 het die oes 126 000 ton beloop.
Die finale oesskatting vir Bon Chretienpere in 2007/'08 is 83 000 ton,wat aansienlik minder as 2006/'07 se 93 700 ton is. Victor sê die drastiese afname is hoofsaaklik toe te skryf aan die feit dat heelwat Bon Chretien-bome uitgehaal en vervang word met ander soort pere, soos vroeë Bon Chretiens wat vir die varsmark bedoel is.
Wat die internasionale aanbod betref, het Italië - een van die grootste produsente van inmaakpere - die afgelope seisoen 20% minder as gewoonlik ingemaak. Spanje het baie minder appelkose ingemaak en 1,8 miljoen minder bokse perskes as gewoonlik. Griekeland het bykans dieselfde hoeveelheid appelkose as in die vorige seisoen
ingemaak, terwyl Amerika 'n ietwat beter perske-oes as in die vorige seisoen
gehad het.
Argentinië het groot misoeste weens koueskade beleef, terwyl die ernstige droogte wat groot dele vanAustralië geteister het, druk op dié land se oes geplaas het.
China is die nuwe rolspeler en dié land is besig omoral nuwe verwerkingsaanlegte tot stand te bring. In hierdie stadium het China egter nog nie die regte kultivars vir inmaak nie, maar dit is net 'n kwessie van tyd. Dit is 'n bekommernis vir die plaaslike bedryf, want as China eers genoeg van die regte kultivars het, kan hy met sy groot
volumes die markkragte beïnvloed, meen Victor.
Daar is tans wêreldwyd min appelkose vir die inmaakbedryf beskikbaar en mededingers betaal ook heelwat meer vir vars appelkose, veral in Amerika. Min boere daar wil appelkose verbou weens die baie
arbeid wat dit verg.
Victor sê daar is kommer dat daar wêreldwyd verbruikersweerstand teen appelkose kan ontstaan. Ondanks die hoë pryse wat behaal word, "beweeg" dié vrugsoort nie van die rakke af nie. Suid-Afrika is die grootste uitvoerder van ingemaakte appelkose ter wêreld.
Hy meen daar moet 'n ondersoek na die langtermynsituasie van appelkose geloods word omte bepaal of die pryse te hoog is, of dié faktor besig is om verbruikersweerstand te veroorsaak en wat in die algemeen op langer
termyn vir appelkose verwag kan word.
'n Wêreldwye tekort aan taapitperskes vir inmaak bestaan. Die 112 000 ton perskes wat Suid-Afrika hierdie seisoen vir inmaak het, gaan geen duik in die internasionale tekort maak nie.
Die varsmarkprys van pere raak die aanbod van Bon Chretien-pere vir inmaak nadelig, sê Victor.
Verdere faktore wat die hele inmaakvrugtebedryf wêreldwyd nadelig raak, is stygende staalpryse (vir blikke) en energie- en brandstofpryse. Veral laasgenoemde raak Suid-Afrika ernstig omdat die land ver van Europa geleë is en dus baie hoër vervoerkoste as byvoorbeeld Griekeland moet dra.
Victor sê van vandeesmaand af gaan 'n tweede plaaslike verwerker begin om inmaakvrugte in 'n plastiekverpakking te verpak. Dit is 'n nuwe manier waarop die produkte die verbruiker gaan bereik, maar dit gaan nie noodwendig dadelik 'n ommekeer vir die bedryf teweegbring nie. Daarvoor sal intensiewe en doelbewuste bemarking
nodig wees.
Waaroor daar wêreldwyd taamlik groot opgewondenheid bestaan, is die puree- en pulpmark. Dit is 'n winsgewende alternatief vir die inmaakbedryf en bied heelwat nuwe moontlikhede,meen Victor.
Hy sê in dié stadium kan aanvaar word dat die internasionalemarkprys vir inmaakvrugte
7% tot 8% hoër behoort te wees weens die tekorte, maar veranderinge in die wisselkoers is uitersmoeilik om te voorspel. Dit beïnvloed winste regstreeks.
Dit is 'n wêreldwye neiging dat voedselpryse aan die styg is. Biobrandstof beïnvloed
dit asook die feit dat ál minder grond vir voedselverbouing beskikbaar is.
Dit beinvloed die inmaakvrugtebedryf gunstig en die boere wat nie in hierdie ideale toestande finansieël goed doen nie, kan werklik groot probleme in die maer jare verwag. En daar
sal weer maerder jare kom, waarsku Victor.
Landbouweekblad, 18 Januarie 2008