Vars druiwe in die hartjie van die winter – dít is jongste prestasie van die Noord-Transvaalse Laeveld. Dit het deesdae in Transvaal al byna spreekwoordelik geword om te sê dat die noorde altyd met iets nuuts vorendag kom, want in die afgelope jare het hierdie streek die een verrassing ná die ander opgelewer.
Dit was sommer nou die dag toe die waarde van Noord- Transvaal as ’n beesboerde- rystreek eers werklik op die voorgrond getree het. Met die bou van ’n dam in die vrugbare Njelelevallei het groente, sitrus en subtropiese vrugte in ’n ál dikker stroom van agter die Soutpansberg na die vernaamste markte in die Unie begin vloei.
En nou eindelik iets wat ’n mens in baie minder ander lande van die wêreld kan regkry – vars druiwe in die hartjie van die winter! Enkele jare gelede was die aankoms van ’n klein besending druiwe in die middel van die winter op die Johannesburgse mark voorbladnuus.