
’n Toep wat wynliefhebbers oor ander se ervaringe en pryse inlig en hulle die kans bied om hul eie foto’s en ervaringe te deel, kan die proses van wynkoop totaal verander. Real Time Wine is ’n gratis toep wat op die meeste slimfone gebruik kan word.
Luidens ’n berig op Winetimes sê mnr. Andy Hadfield, die stigter van die Real Time Wine-handelsmerk en blog, die meeste wynkopers is nie kenners nie. “Die uitdaging om nuwe wyn teen die regte prys te vind, is so groot dat ’n mens geneig is om by die ou en bekende te hou. Real Time Wine maak die proses van kies, drink en die deel van wyn maklik. Dit is ’n maklike toep vir ’n prettige stokperdjie.”
Hadfield sê hoe meer resensies ’n wyn kry, hoe meer betroubaar is die klassifikasie van die wyn op die toep. Om dié rede is die toep so ontwerp dat dit vir gebruikers maklik is om hul eie ervarings en foto’s te deel.
Vangplek
Die toep het wel een vangplek. Geykte uitdrukkings soos ‘bouquet’ en ‘compote’, wat volgens Hadfield deur wynsnobs gebruik word, sal egter nie in resensies op die toep toegelaat word nie. “As een van ons gebruikers sou probeer om ’n verbode woord te gebruik, sal ons ’n ander woord voorstel. Ons soek egte woorde van egte mense.”
Volgens Hadfield moet die toep uiteindelik ’n sosiale wynontdekkingsinstrument word. “Wyn is een van die lewe se plesiere – ons wil die anstigheid daarvan verwyder en fokus op die pret.”
Die toep is beskikbaar vir Android- en iPhone-gebruikers by http://realtimewine.com.
Bron: Winetimes