
Ter viering van die unieke wyne wat in Suid-Afrika geproduseer word, is die tweede Perold Absa Cape Blend-kompetisie aangebied. Altesame 42 wyne van 33 produsente het vanjaar meegeding om as een van die land se beste Kaapse versnit wyne gekroon te word.
Die doel van die kompetisie is om plaaslike wynmakers aan te moedig om trotse plaaslike produkte te vervaardig sodat dit ook aan die wêreld bekend kan word, soos wat ’n Bordeaux-styl rooi versnit onder wynliefhebbers bekend is.
Die wenners van die tweede kompetisie is Beyerskloof Faith 2009, KWV Perold Tributum 2010 en Windmeul Reserve Cape Blend 2010. Die drie wenners het elk ’n reis na die wynlande van Kalifornië gewen. Die topvyf finaliste het elk ook ’n iPad ontvang. Die twee naaswenners is Grangehurst Nikela 2005 en Lyngrove Platinum Latitude 2011.
Pinotage inheems gekweek
Die woord Cape Blend verwys na die inheems gekweekte rooiwyn, Pinotage, wat minstens 30% of hoogstens 70% van die versnit moet uitmaak.
Uit dié jaar se vyf finaliste het dit duidelik geword dat Pinotage en Cabernet Sauvignon mekaar “smaaklik omhels” as hulle gemeng word. Die twee wyntipes maak altesame meer as 60% van elk van die topvyf wyne.
“ ’n Mens neem waar daar is kelders wat die Cape Blend-rooiwyn hul vlagskipwyn wil maak en nog baie proewe doen om by hul wenresep uit te kom. Pinotage versny puik met Shiraz, Cabernet Sauvignon en Merlot,” aldus mnr. Charles Hopkins, voorsitter van die paneel van beoordelaars. “Daar was bitter min foutwyne. Hier wag ’n interessante groei in die eg Kaapse rooi versnit en die wynmakers se rondspelery met Pinotage en ander kultivars gaan nog baie smaakervarings oplewer.”
Absa hoop dat die gewildheid van die kompetsie sal toeneem, sodat die land se eiesoortige wyn ’n unieke posisie in die wêreldbedryf sal beklee.