Die San- en Khoi-gemeenskap het die eerste uitbetaling van R12,2 miljoen ontvang ná jare waarin dié gemeenskappe veg om erkenning vir hul rol in die bewaring van tradisionele kennis oor die inheemse produk rooibos.
Die Nagoya-protokol vereis dat almal wat met inheemse biologiese hulpbronne, soos rooibos, handel dryf, die voordele op billike en regverdige wyse moet deel met die tradisionele bewaarders van kennis daaroor. Die Suid-Afrikaanse regering erken die Khoi en San as die regmatige kennisdraers van rooibos.
Cecil le Fleur van die nasionale Khoi- en San-raad sê die voordele word gereken as vergoeding vir die kennis oor rooibostee wat wit boere destyds by plaaslike mense ingewin het. Onderhandelinge tussen die rooibosbedryf en die Khoi- en San-gemeenskappe het reeds in 2014 begin.