*
* Die volgende somerblommende eenjariges kan gesaai word: Sewejaartjies, heuningblommetjies, kosmos, josefskleed, sonneblomme, gousblomme, petunias, verbenas en jakopregop.
* Strooi 50 g 2:3:2 per plant oor die wortelgebied van alle meerjariges. Volg dan op met 'n goeie deklaag kompos en gee goed water.
* Maak die visdammetjie behoorlik skoon deur al die blare wat in die winter ingeval en gevrot het, uit te haal.
* Plant die volgende bolle in komposryke grond: Dahlias, varkore, pynappellelie, nerina, soetemaling, spekelia en wilde knoffel.
* Swaardlelies kan nog met gereelde tussenposes geplant word.
* Voed die grasperk met 50 g 2:3:2 per vierkante meter en gee dan goed water.
* Alle struike, veral dié wat volgende maand moet blom, soos weigelia en viburnum, moet goed natgemaak word.
* As die lote van fuschias afgeknyp word, word dit meer bosserig en blom ook meer.
* Kamelias, asaleas en brunfelsias sal baat vind by 50 g magnesiumsulfaat wat oor die wortelgebied gestrooi word. Gee goed water.
* Die volgende groente kan gesaai word: Beet, eiervrug, kool, kropslaai, tamaties, komkommers, boontjies en wortels.
6 September 2002