
Suid-Afrikaanse wyne hoef nie vir ander wynlande te skrik nie. Dit het Elgin Vintners Sauvignon Blanc 2021 en Durbanville Hills Tangram White Blend 2018 met die Global Sauvignon Blanc Masters-toekennings bewys. Die wenners van dié kompetisie is vroeër vanjaar aangewys.
Dr. Marinda Kruger, wynmaker by Elgin Vintners, sê hulle is in ekstase oor die toekenning – veral aangesien die maak van ’n wyn van uitsonderlike gehalte nie oornag gebeur nie.
“ ’n Mens werk járe met die druiwe en wyn. Elke jaar probeer jy om ’n beter wyn as die vorige jaar te maak. Meeste van Sauvignon blanc se geure sit reeds in die druif. As wynmaker moet jy daardie eienskappe wat reeds in die druif is en só die terroir weerspieël dit die beste moontlike uitdrukking in die wyn gee.”
Sy sê verlede jaar se koel groeiseisoen en rypwordingsperiode het daartoe gelei dat die druiwe oor ’n lang tyd kon ryp word, soos wat tipies van die Elgin-gebied is. Daarmee saam kon die konsentrasie van geure plaasvind. In die kelder is só met die wyn te werk gegaan dat hierdie eienskappe behoue kon bly.
Sy vertel die toekenning beteken vir hulle veral baie aangesien die internasionale wynmark so mededingend is. “Ons ding mee met lande soos Frankryk wat al jare lank goeie wyn maak. Nieu-Seeland maak Sauvignon blanc-wyn van topgehalte. Chili ook. Dan is daar nog klein nuwewêreldlande soos Griekeland wat ook in berekening gebring moet word.”
Volgens haar het die kompetisie nie net Elgin Vintners op die wêreldkaart vir Sauvignon blanc-wyn van topgehalte geplaas nie, maar ook Suid-Afrikaanse Sauvignon blanc-wyn. “Die gehalte van Suid-Afrikaanse wyne is ongelooflik. Ons kan so goed meeding op die internasionale mark. Ons is almal ná die afgelope twee jaar baie besig om ons wyn te probeer verkoop, maar ons moet net glo in ons produk en nie minderwaardig daaroor voel nie. Ons moet nou vasstaan. Ons wyn maak internasionaal opslae.”
Sy sê die feit dat die wyne in die kompetisie blind geproe is, bewys dat Suid-Afrikaanse wyne nie vir wyne uit ander lande hoef terug te staan nie. Al die wyne ding dus op gelyke voet mee. Enige moontlikheid van vooroordeel is verwyder.”Kruger sê sy skryf graag haar wyne vir internasionale kompetisies in en moedig ander wynkelders aan om dieselfde te doen. “Ek wil hê selfs die Suid-Afrikaanse kopers moet weet ons wyne is van internasionale gehalte.”
Durbanville Hills se Tangram White Blend 2018 het stof geskop in die 200 ander inskrywings vir die kompetisie. Mnr. Martin Moore, keldermeester by Durbanville Hills, sê hulle is opgetoë oor die prestasie van dié vlagskipwyn, ’n versnit wat bestaan uit 76% Sauvignon blanc en 24% Semillon.
“In 1999, met ons eerste oes, het ek die droombeeld gehad om eendag ’n topgehalte-versnit te maak, een wat ons unieke ligging sal ten toon stel. Ons het egter toe al besef dit sal ’n langtermynprojek wees. Ons sou eers ons kennis moes uitbrei en die wingerde toelaat om volwasse te word, asook ons kelder aanpas.”
Om dié doelwit te bereik, is ’n klein kelder ’n paar jare gelede by Durbanville Hills ingerig wat daaraan toegewei is om handgemaakte wyne te produseer. Dit is hier waar elke komponent van die Tangram White Blend 2018 sorgvuldig hanteer is. “Om ’n Top12-toekenning te verower het beslis die wag en geduld wat dit geverg het, die moeite werd gemaak.”