
Die Two Oceans-handelsmerk gaan van krag tot krag in Amerika ná dit op ’n groot hotelgroep se wynlys ingesluit is.
Luidens ’n verklaring sal dié handelsmerk se wyne voortaan op die Four Seasons-groep se wynlyste te sien wees.
Die Chardonnay, wat per glas verkoop word, verskyn op die spyskaarte vir alle gesellighede in die groep se hotelle. Dit gaan ook vir die volgende 24 maande in 25 hotelle in Amerika en die Karibiese Eilande beskikbaar wees.
Dit is reeds die Suid-Afrikaanse wynreeks wat die beste in Kanada verkoop, en dit is ook baie gewild in Swede en ander Skandinawiese lande.
Volgens ’n opname deur Nielsens het dié wyne se verkope vir 13 weke voor 17 September vanjaar, vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, ’n styging van 29% in Amerika getoon.
Resessie
Me. Jackie Olivier, internasionale bemarkingsbestuurder, sê hulle is baie trots daarop dat dié wyne steeds goed presteer ondanks die impak van die wêreldwye resessie.
“Daarby kom sy sterk eko-boodskap hom ook goed te pas. Ál die druiwe vir die reeks geniet akkreditering deur Suid-Afrika se Geïntegreerde Produksie van Wyn (GPW) danksy volhoubare praktyke wat die kweek van druiwe en die maak van wyn betref,” aldus Olivier.
Sy sê die wyn gaan binnekort net in ten volle herwinbare bottels van 350 g elk verkoop word. Tot dusver is dit in bottels van 460 g elk verkoop.
Die vermindering in die bottels se gewig sal daartoe lei dat vir elke 1 000 bottels wat vervaardig word, die ekwivalent van 120 kg minder koolstof vrygestel sal word. Volgens Olivier strook dié verbintenis goed met die Four Seasons-groep se verbintenis tot die behoud van die omgewing.
10 November 2011