
Uilpale in die wingerde op Neethlingshof het heelwat geveerde vriende na dié Stellenbosse wynplaas gelok. Vandag is die gestreepte ooruil en die nonnetjiesuil van die plaas se gedugste vennote in die bekamping van knaagdier- en insekprobleme.
Só in sy noppies is mnr. De Wet Viljoen, Neethlingshof se wynmaker, met die goeie werk wat die uile doen dat een van die plaas se bekende Pinotages The Owl Post heet.
“Ons kan nie voorbly met die wyn nie. Ek weet nie of dit net die etiket is nie, maar hopelik is die wyn se gehalte ook goed!”
Kangaroe-muise is van die moeilikheidmakers op die plaas. Dié muis grawe gate in die wingerde. Dit beskadig die wortels en dra in reëntyd by tot erosie.
Die oplossing was uilpale, wat oral op die plaas sigbaar is. Uile het 'n sitplekkie nodig waarvandaan hulle die gebied kan beskou en op hul prooi kan neerswiep.
“Daar is nogal 'n wetenskaplike verhouding vir die pale. Dit moet minstens 3 m lank wees en die dwarspaal moenie te dik wees nie, anders kan die uil se kloue nie vashouplek kry nie,” vertel Viljoen.
Oor die welslae van die uilpale, sê hy: “Vir my is dit 'n suksesstorie. Die Pinotage-wingerd was die eerste wingerd waar ons uilpale opgesit het en dit is vir my lekker om te sien iets werk. As ons gelukkig is, sien ons uilmis by die pale.”
Neethlingshof se uilbevolking het beslis toegeneem sedert die eerste pale in 2003 opgerig is.
“As jy op 'n lekker aand op die plaas stap, kan jy die uile hoor praat. Die ooruil maak 'n tipiese hoe-hoe geluid, terwyl die nonnetjiesuil 'n skree-geluid maak. ”
Elders op die plaas het hulle ook uilhuise aangebring. Veral die nonnetjiesuil is lief vir dié huise wat met gruis of dennenaalde uitgevoer word. Die nonnetjiesuile is insek- eerder as knaagdiervreters.
Volgens Viljoen mik Neethlingshof daarna om teen volgende jaar kampioenskapstatus van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief te kry. Dit beteken hulle moet grond vir bewaring eenkant sit en aan 'n verskeidenheid volhoubare produksiepraktyke voldoen.
Rooikatte kom ook op die plaas voor. Plaaswerkers en personeel kry jaarliks opleiding oor slange sodat dié reptiele nie onnodig uitgewis word nie.
Corli van der Merwe het 'n video van mnr. De Wet Viljoen geneem waar hy oor Neethlingshof se uile gesels. Kyk hier daarna.
25 Maart 2011