'n Oorvol hawe en logistieke probleme het 'n duik in 'n Suid-Afrikaanse vrugte- en groente uitvoermaatskappy se verkope in Angola gemaak. Die oplossing was om 'n eie vragskip te huur en produkte na 'n kleiner hawe te vervoer.
Volgens mnr. Gielie van Aarde, Freshgold SA se hoof-uitvoerende beampte, behartig dié maatskappy sowat 45% van Suid-Afrika se uitvoere na Angola. Hulle voer veral aartappels, uie, appels, pere en sitrus na dié Afrika-land toe uit.
"Dié land het geweldige groei in invoer gehad. Dit was as gevolg van die einde van die oorlog en danksy die olie is daar baie geld in die land. Maar die infrastruktuur is van só 'n aard dat hulle dit nie vinnig genoeg kan verwerk nie," sê Van Aarde oor hul betrokkenheid in Angola.
Weens logistieke probleme moes hy al tot twee maande wag vir produkte om daar afgelaai te word. SA-produkte se beeld het daaronder gely, want produkte was dikwels nie meer so vars wanneer dit uiteindelik afgelaai en versprei word nie.
Padvervoer was 'n opsie, maar dit het hulle meer as R110 000 per vraghouer uit die sak gejaag. "Ons het gemiddeld 80 000 sakkies aartappels en uie per maand na Angola uitgevoer, maar dit het sommige maande na nul toe geval."
Die Maranjos, wat 1 570 t vrag kan dra, sal vanaf Kaapstad na Boavista, 'n vissershawe net noord van die Luanda-hawe, groente en vrugte vervoer. Die supermarkgroep Shoprite/Checkers het ook winkels in Angola en die Maranjos se vrag sal na hul koelkamers, sowat 2 km van die hawe, vervoer word. Hiervandaan sal dit na ses oliemaatskappye, Shoprite/Checkers-winkels en verskeie groothandelaars versprei word.
Die skip neem sowat 7 dae om Boavista te bereik. Van Aarde sê hulle wil sowat 1 000 t varsprodukte elke 21 dae na Angola stuur.
6 Mei 2008