
Suid-Afrika se aartappelbedryf het die afgelope dekade sterk gegroei, wisselende aanplantings ten spyt.
Ons nasionale produksie het die laaste twaalf jaar teen gemiddeld 9% per jaar gestyg, vanaf 143 miljoen ton in 2002 tot 221 miljoen ton in 2012, wys die jongste maandverslag van die Nasionale Landboubemarkingsraad.é
Danksy groeiende produksie en uitvoer word 'n goeie toekoms vir dié bedryf in die vooruitsig gestel.
Die voortgesette toename in produksie word aan verskeie faktore toegeskryf. Dit sluit in uitgebreide toegang en beter marktoestande in die ander SA Ontwikkelingsgemeenskap-lande; verbeterde navorsing en hoë opbrengste vergeleke met ander Afrika-lande en ’n groeiende plaaslike vraag na aartappels omdat ons bevolkingsgetalle groei.
Groot aanvraag
Ons uitvoersyfers weerspieël die groei in buitelandse vraag na Suid-Afrikaanse aartappels. 'n Beraamde 9% van al die aartappels wat deesdae in Afrika geproduseer word, is uit Suid-Afrika.
Hoewel die oorgrote meerderheid van ons aartappels (67%) in die plaaslike mark verbruik word, het uitvoere die afgelope sewe jaar teen 'n jaarlikse gemiddeld van 18% gestyg. Die sterkste groei was vanaf 2009 na 2012, toe 'n volle R195 miljoen van ons aartappels aan invoerders uit ander lande verkoop is.
Die vyf voorste internasionale markte was Angola, wat in 2012 die helfte van ons uitvoer-aartappels gekoop het, en Mosambiek, Zambië, Zimbabwe en die Demokratiese Republiek van die Kongo, na wie bykans al die orige uitvoer-aartappels (47% van die uitvoer-totaal) gestuur is.
Die hektare aartappels wat jaarliks geplant word, het in dieselfde tyd skerp van jaar tot jaar gewissel, maar het ook 'n oorhoofse styging getoon.