
Verskeie internasionale en nasionale sprekers word verwag op ’n konferensie wat op 22 en 23 Augustus vanjaar vir die hele varsproduktemark in Pretoria aangebied gaan word. ’n Wye verskeidenheid kwessies, wat groot implikasies vir elke belanghebbende in die bedryf inhou, is op die agenda.
Luidens ’n verklaring word die konferensie deur die Produce Marketing Association (PMA) en Aartappels Suid-Afrika aangebied. Mnr. Eric Trachtenberg, direkteur van ’n konsultasiemaatskappy in Washington, sal neigings van die wêreldwye varsproduktemark, maar spesifiek ook Suid-Oos Asië en China bespreek. ’n Tweede spreker, wat op die veranderende struktuur in die verkryging van varsprodukte sal fokus, is mnr. Tim Riley, ’n verteenwoordiger van die Guimarra-maatskappye in Amerika.
’n Paneel met verskeie leiers sal ook ’n paneelbespreking hou oor die implikasies wat die verkryging van vars produkte op produsente, uitvoerders, kettinggroepe, verwerkers en varsproduktemarkte het.
Simposium
Aartappels Suid-Afrika bied op 23 Augustus ’n bemarkingsimposium aan wat op onder meer die onderskatte potensiaal van die informele handelaarsmark sal fokus. Die organisasie gaan ook ’n nuwe inisiatief om varsproduktemarkte nuwe “oemf te gee” bespreek.
Die konferensie val saam met die PMA se derde uitstalling van Agri-Voedselloopbane en beurse, wat met die samewerking van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe by die Universiteit van Pretoria (UP) aangebied word. “Die oogmerk van die uitstalling is om jongmense aan te moedig om ’n loopbaan in die landbou-/voedselbedryf te oorweeg,” lui die verklaring.
Die konferensie word beskryf as ’n “omvattende netwerkgeleentheid” vir vrugte- en groenteboere, kleinhandelaars, inset- en diensverskaffers, uitvoerders, groothandelaars en varsproduktemarkte.
’n Volledige program en registrasie-inligting is by www.potatoes.co.za en www.careerfair.co.za beskikbaar.