Baie plaaslike en internasionale verbruikers van die nagenoeg 135 000 ton avokado’s wat jaarliks in Suid-Afrika geproduseer word, wil weet dat dié boomvrugte omgewingsvriendelik verbou word, en boonop geen voedselveiligheidsrisiko’s inhou nie. Dit is redelike vereistes, maar veroorsaak kwessies vir boere.
Hulle kom toenemend agter dat hul historiese arsenaal van doeltreffende, dog duur en potensieel skadelike gewasbeskermings- en voedingsprodukte, kommerwekkend beperk word deur druk van die samelewing en wetgewers.
Avokadoboere moet dus omgewings- en verbruikersvriendeliker maniere vind wat soortgelyk of hopelik doeltreffender is om hul boorde te beskerm en te voed.