Die private sektor se deelname in die waardeketting en strategiese vennootskappe is noodsaaklik om die tuinboubedryf se uitvoer vlot te laat verloop, sê mnr. Werner van Rooyen, bedryfsbestuurder van die die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF).
Van Rooyen, een van die sprekers by BerriesZA se tegniese simposium wat op Vrydag 27 Mei by die Allée Bleue-landgoed aangebied is, sê die tuinboubedryf dra sowat 30% by tot Suid-Afrika se totale landbou-uitvoer. Die feit dat die bedryf ’n bloeitydperk beleef en onlangs verskeie rekordoeste geproduseer het, plaas verdere druk op die sukkelende Kaapstadhawe.
Volgens FPEF se data het die tuinboubedryf se produksie van 2014 tot 2020 met sowat 35% toegeneem. In die 2020-’21-boekjaar is rekordvolumes sagtevrugte, tafeldruiwe en sitrus uitgevoer, en het die uitvoer van steenvrugte genormaliseer. Dié uitvoer is verder gesteun deur voortgesette verwagte groei vir bessies en avokado’s.