Mnr. Jan le Roux se grootste passie is om geleenthede te skep vir mense. Hy is die uitvoerende hoof van die Le Roux Groep en die Landbouskrywers SA se nasionale Boer van die Jaar vir 2021.
“Ek gee graag vir mense geleenthede, selfs al is daar nie ’n waarborg dat hulle by ons besigheid gaan aanbly nie.” Om sulke geleenthede vir ander te kan skep, moet ’n mens eers ’n vooruitstrewende, suksesvolle besigheid hê.
Le Roux het só ’n besigheid oor die afgelope 40 jaar opgebou ondanks enorme kwessies, soos toe sy hele steenvrugtepakhuis gedurende die 2012-onluste deur brandstigters vernietig is. Hy het op die Mooikelder-wynplaas in die Paarl grootgeword.