
Brandewyn (met eish, ja) is nou deel van die Veritas-toekennings, wat sy vanjaar sy twintigste bestaansjaar vier.
Veritas het bekend gemaak dat brandewyn van vanjaar af deel word van die grootste wyn-kompetisie in Suid-Afrika. Die raad van die SA Nasionale Wynskouvereniging, wat Veritas aanbied, het vroeër eenparig besluit om brandewyn as ‘n nuwe klas tot dié kompetisie by te voeg.
Suid-Afrika is toenemend bekend vir sy uitmuntende standaard- en potketel-brandewyne wat met die wêreld se bestes kan saampraat. Dis dus juis gepas dat brandewyn deel word van Veritas in sy twintigste bestaansjaar. Mnr. Riaan Marais, voorsitter van die Brandewynstigting, het dié stap verwelkom en gesê dit sal bydra tot die hoë aansien van gehalte brandewyne in Suid-Afrika.
Dis ‘n Oscar!
Razvan Macici, keldermeester van Nederburg, wat reeds talle toekennings by Veritas ontvang het, som die wynbedryf se gevoel jeens die kompetisie soos volg op: “Vir ‘n Suid-Afrikaanse wynmaker is die wen van ‘n dubbelgoud by Veritas gelykstaande aan die wen van ‘n Oscar.”
Die sperdatum vir inskrywings is 17 Augustus. Die ingeskrewe wyne en brandewyne word van 13 - 20 September by die Nederburg-veilingkompleks deur spesialispanele volgens streng internasionale riglyne beoordeel.
Vanjaar se uitskieterwyne word tydens ‘n glansdinee op 8 Oktober by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) bekend gemaak.
Die 2010 Veritas-inskrywingsvorm en katalogus is aanlyn beskikbaar by www.veritas.co.za sowel as by die SANWSV kantore. Kontak Elsabé Ferreira vir verdere inligting by tel (021) 807 3104, faks (021) 863 2079 of e-pos information@veritas.co.za.
2 Julie 2010