
Alhoewel dit belangrik is om volumes te skuif, is dit dalk beter vir Suid-Afrikaanse wynprodusente om te verseker dat hul wyne ook per glas in Amerika verkoop word. Mnr. Jim Clarke, Wines of South Africa (Wosa) se bemarkingsbestuurder in Amerika, glo dat die soort verkope een van die doeltreffendste maniere kan wees om ’n handelsmerk in dié mark te vestig of uit te brei. Hy het onlangs op Stellenbosch gepraat by ’n Wosa-inligtingsessie oor die Amerikaanse mark.
Clarke het verduidelik dat die kanse beter is dat verbruikers ’n onbekende wyn eers per glas as per bottel sal bestel. As hulle dan van die wyn hou, sal hulle ’n bottel bestel en selfs later vir die wyn op 'n winkelrak gaan soek.
Kies 'n goeie agent
Wyn moet ook reg geposisioneer word in die mark. Jy moet ’n goeie markagent kies waarmee jy ’n pad kan loop: “Jy soek ’n agent met ’n goeie reputasie en goed opgeleide verkoopsagente, wat waarde toevoeg tot jou produk. As jy groot agente gebruik wat nasionaal sake doen, is dit belangrik om seker te maak dat jou produk nie gaan wegraak tussen al die ander wyne wat hulle verkoop nie.”
Volgens Clarke is dit aanvaarbaar om verskillende agente in verskillende streke te gebruik, solank die een agent nie die ander een benadeel nie. Dit is glo ’n algemene gebruik onder die Franse wynprodusente.
Verder moet produsente nie die fout maak om te dink dat hulle hul deel gedoen het nadat hulle die wyn aan die agent gelewer het nie: “Jy moet aktief betrokke wees by die bemarking en saam met die agent maniere vind om te verseker dat jou wyn reg geposisioneer en geprys word.”
Vertel 'n storie met jou wyn
Dit wyn moet ’n goeie storie vertel: Die etiket van die bottel verdwyn meestal op die agtergrond wanneer wyn per glas verkoop word. Tog is dit baie belangrik om ’n storie te verskaf oor die wyn wat tot die verbruiker sal spreek sodat hy die wyn sal wil proe.
Hy het bygevoeg dat sommeliers ’n al hoe belangrikers rol speel in die wynbedryf en dat dit die moeite werd is om hulle aan jou kant te kry: Hulle hou baie van agtergrond en produksiestories, maar hou glad nie daarvan as jy vir hulle probeer vertel wat hulle veronderstel is om te proe nie.
Die internet speel ook ’n al hoe groter rol in hoe wyn verkoop word in Amerika. Clarke het egter daarop gewys dat wynklubs die groot drywer van hierdie verkope is. Ongelukkig het hierdie wynklubs ’n soort stortingsplek geword vir wyn wat goedkoop verkoop word: “Lede in die klubs groei dus nie noodwendig nie, wat beteken dat jy nie besig is om jou mark uit te brei nie.”
Byskrif: Die ontwikkeling van die Amerikaanse mark is nou hoog op die agenda van Wines of South Africa (Wosa). Mnr. Jim Clarke, Wosa se bemarkingsbestuurder in Amerika en me. Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wosa, het onlangs ’n praatjie oor uitdagings in die mark aangebied.