Die verkope van knoffel op die varsmarkte skets 'n wisselvallige verhaal terwyl meer bestendigheid in die uiemark voorkom.
Kleintyd het Ouma sakkies met knoffel om ons nekke gehang om verkouekieme en ander goggas weg te hou. Of dit gewerk het, weet ek nie. Later jare het belangrike mense in die gesondheidsbedryf geglo dit is ‘n kuur teen veel ernstiger kwale. As ek volgens die verkope op die varsproduktemarkte moet oordeel, het knoffelprodusente nie een van dié stories geglo nie.
Knoffel
Die verkope van knoffel op die varsproduktemarkte het van 2 500 ton in 2000 tot sowat 1 800 ton in 2008 gedaal. Dit is ‘n daling van 28%. Die meeste knoffel is in 2003 verkoop toe bykans 2 700 ton van die hand gesit is met die laagste verkope verlede jaar toe slegs 1 800 ton verkoop is.
Bemoedigende inligting vir produsente is dat die prys oor die tydperk meer as verdubbel het. Dit het gestyg van gemiddeld R6 040 in 2000 tot meer as R14 200 in 2007. Verlede jaar het dit effens afgeneem tot R13 280.
Verkope van knoffel
|
2000 |
'01 |
'02 |
'03 |
'04 |
'05 |
'06 |
'07 |
'08 |
|
'000 ton |
2613 |
1970 |
2270 |
2672 |
2325 |
1914 |
1833 |
1806 |
1800 |
|
Milj. rand |
6042 |
8380 |
9228 |
8263 |
9822 |
12452 |
13876 |
14219 | 13281 |
Gedurende 2008 vertoon knoffelverkope die tipiese beeld van die vryemark, waar pryse styg as volumes daal, en andersom.
Gedurende die wintermaande is die volumes laag met slegs 114 ton wat in Augustus verhandel is. Dit is ook die maand waarin die hoogste prys behaal is, nl. R17 530 per ton. Die grootste volume is verkoop in Desember nl. 204 ton toe pryse ook op hul laagste was R 9 970. Gemiddelde knoffelpryse vir 2009 is net meer as R9 000 per ton.
Knoffel word ook aan verwerkers gelewer vir die maak van knoffelsout en -vlokkies asook vir die gebruik as geurmiddel by ander produkte. Die omvang hiervan asook die pryse wat betaal word, is onbekend, maar kan wel ‘n invloed hê op die volumes en pryse op die varsproduktemarkte.
Uie
Vir uieprodusente lyk die langer termyn prentjie heelwat beter. Die verkope op die markte het van 214 000 ton in 2000 toegeneem tot 296 000 ton in 2008. Die tendens is dus ‘n styging van byna 30%. Met die uitsondering van 2007, toe daar ‘n geringe daling in die verkope was, het die verkope elke jaar gestyg.
Pryse het toegeneem van ‘n minimum van R 1 190 in 2001 tot ‘n maksimum van R2 935 in 2007. Dit is ‘n toename van byna 150%. Veral in die laaste twee jaar het die prys van uie die hoogte in geskiet. Pryse styg dus aansienlik vinniger as die volumes verkoop. (Sien tabel )
Verkope van uie
|
2000 |
'01 |
'02 |
'03 |
'04 |
'05 |
'06 |
'07 |
'08 |
|
'000 t |
214 |
238 |
245 |
252 |
283 |
283 |
286 |
253 |
296 |
|
M.Rand |
1700 |
1190 |
1657 |
1640 |
1222 |
1330 |
1483 |
2953 |
2170 |
Dit blyk dat uie gedurende 2008 dieselfde patroon volg as knoffel, met lae pryse wanneer volumes hoog is en andersom. Pryse is die hoogste in die herfs wanneer die volumes laag is terwyl die pryse daal in die lente waneer die volumes op die mark toeneem. Wat egter opval is die groot skommeling in pryse terwyl die skommeling in volumes meer gelykmatig is. Die laagste pryse is behaal gedurende September tot November. Gemiddelde pryse vir die eerste vier maande van 2009 is R2 750 per ton. (Sien Figuur)
(Die lyn hierbo dui rand aan en die pers stafies is ton)
Opsomming
Die hoeveelheid knoffel wat die afgelope dekade op die varsprodukte markte verhandel is, het beduidend afgeneem. Daarteenoor het pryse oor dieselfde tydperk meer as verdubbel. Hoewel daar moontlik ‘n toename in direkte verkope aan verwerkings instansies was, lei ek tog uit die groot styging in pryse af dat daar wel ‘n afname in die totale produksie plaasgevind het. Uie word in baie groter volumes (tien duisende tonne) op die mark verkoop as knoffel. (slegs honderde tonne). Die volumes uie op die markte het die afgelope dekade toegeneem terwyl die pryse nog vinniger gestyg het. Uieboere kan dus met gerustheid gebruik maak van die varsprodukte markte.
Die skrywer, Kobus Smit, het sedert sy aftrede steeds 'n belangstelling in landbousake in die algemeen en in besonder in landbou-ekonomie en landboustatistiek. Sy e-pos adres is: diesmitte@gmail.com
3 Augustus 2009