Twee jaar se harde werk en R63 miljoen later is die vernielde tee-landgoed Tshivhase in die Vhembe-distrik, oos van Louis Trichardt in Limpopo, weer in die toestand wat dit was vóór die grond in 2006 vir grondhervorming oorhandig is.
Die Regering het met belastingbetalersgeld mildelik bygedra om dit moontlik te maak.
"Ons gaan Suid-Afrikaanse tee weer op die spyskaart plaas," het die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulu Xingwana, op die bekendstelling van die gerehabiliteerde teeplantasie gesê.
Die fabriek is van nuuts af toegerus met ingevoerde masjinerie om 2,4 miljoen kg tee per jaar te verwerk. 'n Afsonderlike verwerkingslyn is geïnstalleer om sowat 1,5 miljoen kg rooibostee uit Nieuwoudtville te pasteuriseer en te verpak.
Die projek gaan 2 400 werkgeleenthede skep, waarvan 245 permanent en die res seisoenaal sal wees.
Mnr. Johan de Kock, vroeëre finansiële bestuurder van Sapekoe, het by navraag gesê Sapekoe het voor die oorname met voorstelle na die Regering gegaan om die vyf teeplase landwyd om te skakel in meer lewensvatbare bedrywe om arbeid te behou. Toe gesprekke niks kon oplewer nie, het die aandeelhouers onttrek.
De Kock meen daar "is nie 'n manier" dat die teeplantasies op suiwer ekonomiese grondslag lewensvatbaar en volhoubaar kan wees nie. "Wie gaan die tee koop as produksiekoste hier R23/kg beloop en tee vir R10/kg ingevoer kan word?"
24 April 2009