AFGRI
BEAN
06 Des
-
9456,8
114,80
CORN
06 Des
-
4415
-4,00
SOYA
06 Des
-
10335
29,00
SUNS
06 Des
-
9714
-270,00
WEAT
06 Des
-
6642
-31,00
WMAZ
06 Des
-
4452
24,00
YMAZ
06 Des
-
4740
-59,00
AMT
Ave Wool - Non RWS
25 Nov
-
161,43
8,93
Ave Wool - RWS
25 Nov
-
165,08
7,23
Beeste A2/3
25 Nov
-
59,74
-0,14
Beeste AB2/3
25 Nov
-
55,92
-2,28
Beeste B2/3
25 Nov
-
51,94
-0,63
Beeste C2/3
25 Nov
-
49,11
-0,63
Bevrore Hoender
25 Nov
-
32,3
0,32
Bokkies (onder 30 kg)
25 Nov
-
59,57
0,15
Bokooie
25 Nov
-
42,28
3,18
Groot (meer as 40 kg)
25 Nov
-
43,87
-0,26
Hoender (IQF)
25 Nov
-
31,5
0,18
Medium (30-40kg)
25 Nov
-
60,31
5,18
Pork Average
25 Nov
-
36,15
-0,47
Poultry Average
25 Nov
-
32,51
0,25
Skaap A2/3
25 Nov
-
91,99
-0,90
Skaap AB2/3
25 Nov
-
77,48
-0,41
Skaap B2/3
25 Nov
-
74,46
1,06
Skaap C2/3
25 Nov
-
70,17
0,20
Speenkalf
25 Nov
-
36,89
-0,04
Spekvarke
25 Nov
-
36,25
-0,10
Stoorlammers
25 Nov
-
40,69
0,18
Varkwors
25 Nov
-
28,46
-0,82
Vars Hoender
25 Nov
-
33,73
0,26
Vleisvarke
25 Nov
-
36,02
-0,69

Vogstremming vir goeie wyn

Rooiwyn van topgehalte kan gemaak word as 'n strategie van gereguleerde vogstremming en noukeurige bestuur in die wingerd gevolg word.

'n Bykans tienvoudige toename in die aanplanting van rooiwynkultivars sedert die vroeë 1990's in die Robertsonvallei (van 472 ha in 1993 tot 4 331 ha in 2002) sonder dat resultate in die beginjare in die kelder ewe dramaties verbeter het, het wingerdboukundiges daar genoop om te begin soek na 'n bestuurstrategie om wyngehalte te verhoog.

"Aanvanklik is rooiwynwingerde soos wit kultivars bestuur, maar wyne gemaak van druiwe uit dié geil wingerde het nie genoeg kleur en volheid gehad nie," sê mnr. Briaan Stipp, wingerdboukundige van Vinpro op Robertson.

Nadat sy kollega, mnr. Francois Viljoen, die Australiese vogstremming-ghoeroe, dr. Michael McCarthy, besoek het, is gereguleerde tekortbesproeiing geïdentifiseer as 'n strategie om groei in wingerde te beheer en wyngehalte te verbeter. Vinpro het, met die samewerking van boere, op klein skaal met gereguleerde tekortbesproeiing begin eksperimenteer.

Met 'n strategie van gereguleerde tekortbesproeiing word daar op gereguleerde en herhaalbare wyse minder water as die volle besproeiingsvereiste gedurende spesifieke groeistadiums aan wingerde toegedien. Dit word gedoen ten einde fisiologiese reaksies in die stok te benut om gehaltewyn te maak. Soos die gedeeltelike uitdroging van wortels (Landbouweekblad, 22 Augustus), is gereguleerde tekortbesproeiing 'n strategie wat deur Australiese wingerdnavorsers ontwikkel en verfyn is.

Volgens mnr. Stipp pas die meeste produsente van rooiwyndruiwe deesdae reeds 'n mate van vogstremming toe, maar kan resultate net soveel beter, betroubaarder en makliker wees om te herhaal as dié besproeiingstrategie op wetenskaplike wyse toegepas word.

Een van die belangrikste voordele van gereguleerde tekortbesproeiing is dat dit oormatige groei in wingerde beperk. "Die blaredak funksioneer beter en vereis minder insette," sê mnr. Stipp. "Die wingerde is ook meer bestand teen vrot."

Tekortbesproeiing beheer geil groei in alle kultivars, maar ten opsigte van wyngehalte word die beste resultate met rooiwynkultivars verkry. Die verbetering in wyngehalte en die potensiaal om 'n voller wyn met beter kleur in intensiewe besproeiingsgebiede te maak, is volgens mnr. Stipp die beste redes om tekortbesproeiing toe te pas.

Verdere voordele is vinnige, vroeë rypwording en kleiner korrels - veral by Shiraz en Ruby Cabernet - met 'n beter dop-tot-sap-verhouding en dus beter kleur. In eksperimente by mnr. Gert Schonken (tabel) het 'n oud-kollega, mnr. Leon Dippenaar, gevind dat die chemiese ontleding beter is, met 'n potensiële laer pH en hoër suur (TA of titreerbare suur) by dieselfde suikervlakke. In die proewe is water toegedien deur mikrospuite wat 32 liter per uur lewer.

Met gereguleerde tekortbesproeiing kan water én elektrisiteit bespaar word. Na gelang van die grondtipe kan 20 % tot 30 % water bespaar word. "Enige oorbesproeiing wat uitgeskakel kan word, beteken minder loging van voedingstowwe, wat beter is vir die omgewing."

Gereguleerde tekortbesproeiing lewer die beste resultate wanneer dit toegepas word tussen korrelset en deurslaan, wanneer korrelvergroting hoofsaaklik deur seldeling, maar ook selvergroting plaasvind. Wanneer die grondwater beskikbaar vir opname deur die wingerdstok se wortels minder raak, stel die wortels die hormoon absissiensuur vry. Absissiensuur stuur 'n "boodskap" na die blare om die huidmondjies toe te maak om vogverlies te beperk. Op plantselvlak lei dié sluiting van die huidmondjies tot 'n afname in fotosintese, seldeling en selvergroting. Die uitwerking op die wingerdstok is 'n vermindering in lootgroei en kleiner korrels.

Hoewel die ekonomiese voordele nie so presies kwantifiseerbaar is nie, sê mnr. Stipp dat wyn van gehalte makliker bemarkbaar is en 'n besliste advertensiewaarde vir die produsent inhou. "Selfs teen 'n laer opbrengs per hektaar kan 'n beter inkomste gekry word deur die hoër prys wat 'n topgehalte wyn kan behaal."

Gereguleerde tekortbesproeiing lewer die beste resultate in wingerde met homogene grond. Voldoende groeikrag en 'n lootlengte van tussen 1 m en 1,2 m is volgens mnr. Stipp 'n voorvereiste vir tekortbesproeiing, aangesien dit verseker dat daar genoeg aktiewe blare is om fotosintetiese produkte te vorm en na die trosse te translokeer.

Met 'n drupbesproeiingstelsel is die wingerd se reaksie op swaar grondsoorte vinniger as by ander besproeiingstelsels. Met 'n mikrospuit-besproeiingstelsel en skaliegrondsoorte word dieselfde resultate verkry. Op baie sanderige grondsoorte met 'n lae waterverspreidingsvermoë word beter resultate met mikrobesproeiing verkry.

Omdat daar tot 30 % minder besproeiingswater gedurende gereguleerde tekortbesproeiing toegedien word, en daar onverwyld besproei moet word as die wingerdstok 'n sekere stremmingspunt bereik het, kan dié tegniek nie toegepas word as die plaas se besproeiingsinfrastruktuur nie toereikend is nie. "As dit tyd word om te besproei, móét daar surpluskapasiteit op die stelsel wees," sê mnr. Stipp.

'n Strategie van vogstremming is nie juis doeltreffend op brak grond of met brak besproeiingswater nie. In brak toestande - besproeiingswater met 'n elektriese geleidingsvermoë van meer as 70 millisiemens per meter - kan soute opbou wat die opname van water deur die plant se wortels bemoeilik.

In blokke jonger as vier jaar is die meeste prosesse nog daarop gemik om die wingerdstok te vorm en te laat groei, en kan dit skadelik wees om dié wingerde aan vogstremming te onderwerp. Eweneens sal die gewenste resultate nie behaal word op ouer wingerde of wingerde wat met die rolbladvirus besmet is nie.

Mnr. Stipp sê gereguleerde tekortbesproeiing werk ook nie goed op produkte van 'n laer waarde nie. "Tekortbesproeiing is 'n spesifieke strategie vir premiumwyne."

Reën gedurende die stresperiode kan ook doelwitte met vogstremming laat skipbreuk ly.

Mnr. Stipp sê tekortbesproeiing kan nogal 'n radikale verandering in denkwyse van tradisionele vrugte- en witwynboere eis. "In hierdie geval is wyn, en nie druiwe nie, die produk, en wat goed is vir druiwe, is nie noodwendig goed vir wyn nie."

Wat die praktiese implementering van gereguleerde tekortbesproeiing betref, is daar geen maklike resep nie. Wat in die wingerd waargeneem word, moet vergelyk word met gereelde grondvogmetings sodat die stremmingspunte bepaal kan word om 'n unieke resep vir 'n spesifieke wingerd of blok te ontwikkel.

Mnr. Stipp sê om gereguleerde vogstremming in 'n wingerd te bestuur en te besluit presies wanneer om 'n spesifieke blok of wingerd te besproei, word 'n kombinasie van "wingerd-indikatore", of wingerdreaksie- en stres-aanwysers gebruik, soos byvoorbeeld die mate van verwelking van die rankies, die wegdraai van blare en blaarkleur, die groeitempo van die groeipunt, asook grondvoglesings en weerstasie-inligting.

Navrae: Mnr. Briaan Stipp, tel. 023 626 3017.

Belangrikste vereistes

Die belangrikste vereistes vir korrekte en suksesvolle tekortbesproeiing, aldus mnr. Briaan Stipp, wingerdboukundige van Vinpro op Robertson, is die volgende:

  • 'n Deeglike kennis van die groeistadia van die wingerdstok, sy lote, wortels en korrels.

  • Kennis van die invloed van waterstres op lote, wortels en korrels gedurende die verskillende groeistadiums van die wingerdstok.
  • Kennis van die wortelomgewing en grondwater; met ander woorde, die produsent moet weet hoe groot die wortelstelsel is, wat die waterhouvermoë van die verskillende grondlae is, wat die grootte van die benatte area is en hoeveel water per plant beskikbaar is.
  • Doeltreffende apparaat om grondwater te monitor en die besef dat grondvogmeting "absoluut noodsaaklik" is. " 'n Boer moet die vog [in die grond] meet, hy kan dit nie raai of skat nie." Akkurate vogmeting help volgens mnr. Stipp ook om te bepaal presies hoe ver die wingerdstok uitgedroog kan word, ten einde doelwitte te bereik en die wingerdstok te beskerm. Met vogmeting kan dieselfde resultate seisoen ná seisoen verkry word omdat herhaalbare syfers en riglyne beskikbaar is.

Stres in die wingerd, gehalte in die bottel

As beheerde tekortbesproeiing reg toegepas word, kan 'n wynmaker wynkenners beïndruk en sy bankbestuurder gelukkig hou. Dit stel egter baie hoë eise aan die wingerdbestuurder, sy waterspan en die besproeiingstelsel, sê mnr. Leon Dippenaar, wingerdboukundige van Graham Beck Wines buite Robertson.

Dáár word 'n strategie van beheerde tekortbesproeiing of vogstremming reeds sedert 1997 toegepas en verfyn; in 20 % van die wingerde om korrelgrootte te beperk en in 80 % van die wingerde om lootgroei te beheer.

'n Boer moet baie selektief wees oor die kultivars waarop die strategie toegepas word. "Ons weet dit werk op Shiraz, maar daar is nog baie onsekerheid oor die uitwerking op heelparty ander kultivars." Oor die algemeen kan gesê word dat wit kultivars minder voordeel as rooies uit hierdie benadering trek.

Die doel met dié besproeiingstrategie is om wyngehalte te verbeter. "Dit kan die verskil beteken tussen wyn wat in groot maat verkoop word, of in 'n bottel."

Maar daar is nie 'n resep wat alle plase of eens alle wingerdblokke geld nie. "Dit neem so drie tot vier jaar om 'n goeie rekord op te bou vir 'n blok en om stremmingspunte te bepaal," sê mnr. Dippenaar.

Volgens hom moet die besproeiingstelsel 'n "Rolls-Royce" wees. "Die foutgrense by tekortbesproeiing is só klein dat 'n produsent dit nie kan bekostig om te twyfel oor die betroubaarheid of vermoë van sy stelsel nie. Hy moet die versekering hê dat die plant die bietjie water wat toegedien word, kry." Hulle gebruik 'n betroubare drupstelsel.

Vir boere wat dit oorweeg om dié benadering te volg, beveel hy aan dat hulle hul topblokke identifiseer en seker maak dat hulle genoeg kan besproei wanneer die wingerd "gehelp" moet word wanneer dit nodig is.

Mnr. Dippenaar sê die onderhoud van die besproeiingstelsel is ook baie belangrik. "Die drupperlyne moet gereeld gespoel word. Om dubbeld seker te maak dat niks verkeerd loop nie, moet daardie blokke minstens een keer meer deurgeloop word."

Goeie grondvogmeting is noodsaaklik. In hul wingerd by Robertson gebruik hulle 'n neutronvogmeter om vanaf die eerste week in September een keer per week 'n meting te doen. Op sandgrond en grondsoorte met 'n lae waterhouvermoë sal twee, of selfs drie, metings per week nodig wees. Van die blomstadium af neem hulle twee keer per week grondvoglesings. Veiligheidshalwe monitor hulle ook in die wintermaande grondvog.

Grondvogmeting alleen sal egter nie 'n wingerdbestuurder help om die regte besproeiingsbesluite te neem nie. Waarnemings moet ook in die wingerd gemaak word en daar moet deeglik kennis geneem word van die naaste weerstasie se waterverbruiksyfers.

Een van die voordele van beheerde tekortbesproeiing (indien dit reg toegepas word) is dat dit die wingerdstok sterker maak. "Dit bring mee dat elke blok se rekord jaarliks aangepas moet word. Daar is ook 'n baie klein verskil tussen sterker stok maak en swakker stok maak. As 'n wingerdstok te veel droogte ly, kan die stok swakker word."

Hoewel gereguleerde tekortbesproeiing nie die gewenste resultate met brak besproeiingswater of op brak grond lewer nie, bestaan die gevaar dat soute selfs in normale toestande in die grond kan opbou en die wingerdstok beskadig. Om dié rede pas hulle net vóór die wingerd bot, by deurslaan en net ná oestyd 'n geringe mate van oorbesproeiing toe om "sout uit die stelsel te loog". "Indien daar genoeg water beskikbaar is, sal dit goed wees om ook in die winter een of twee keer te besproei om soute te loog en só die plant te beskerm."

Gereguleerde tekortbesproeiing behoort net in gesonde, sterk wingerde met 'n lootlengte van 1 m tot 1,2 m toegepas te word. "In ouer wingerde wat al meer in balans is, werk dit dikwels nie so goed nie."

Mnr. Dippenaar sê virusblokke, veral dié met te veel rolblaar, gee nie die beste gehalte in die distrik Robertson nie. Dit geld ook vir blokke wat met witluis besmet is. "As 'n blok met té veel witluis vogstremming ervaar, kry die stok baie swaarder as 'n blok wat vry is van witluis en onder vogstremming verkeer."

Volgens mnr. Dippenaar kry hulle uitstekende resultate met beheerde tekortbesproeiing in hul Shiraz-wingerde. Die Graham Beck-wyn, The Ridge Shiraz, ryg immers vir die afgelope paar jaar die toekennings in. Met druiweproduksie vir dié wyn is hul mikpunt om korrelgrootte tot minder as 1 g per korrel te beperk. Die beste wyn word gemaak van 0,8 g-korrels (die korrels word geweeg nadat dit van die korrelsteel afgepluk is). Mnr. Dippenaar sê hoewel die verlies aan produksie gemiddeld 20 % is, is die verbetering in gehalte sowat 50 %.

Gereguleerde vogstremming werk die beste op eenvormige, goed gedreineerde grond met 'n gemiddelde waterhouvermoë. Mnr. Dippenaar stel voor dat daar in 'n goeie dreineringstelsel belê word wanneer 'n nuwe wingerd aangeplant word.

Vir goeie resultate moet die wingerdstok stadig in 'n toestand van vogstremming ingaan en vir 'n ruk lank daar gehou word sodat 'n deel van die selverdelingsfase en selvergrotingsfase benadeel kan word. In veral jong wingerdblokke moet water só toegedien word dat daar 'n nat en 'n droë siklus is. Dit sal versuiping verhoed en verseker dat daar genoeg suurstof is vir goeie wortelgroei. Nadelige wortelswamme word ook beperk.

Om die gewenste resultate met tekortbesproeiing te kry, vereis heelwat ekstra bestuursinsette, maar nie noodwendig meer arbeidsinsette nie. Lowerbestuursinsette is laer en daar kan selfs op arbeid bespaar word omdat minder arbeid nodig is om blare te breek, sylote en suiers te verwyder en te "tip en top".

Die plaas se waterspan moet goed opgelei wees om stressimptome waar te neem. "Hulle moet verkieslik voor 09:00 na die wingerd kyk en moet kan sien en rapporteer wanneer die wingerd begin swaarkry."

Tog, sê mnr. Dippenaar, is die toepassing en voordele van tekortbesproeiing nie 'n plaasvervanger vir normale bestuurspraktyke nie. "Gereguleerde besproeiing is een van die belangriker praktyke, maar goeie stokontwikkeling, lowerbestuur, snoei- en oesbeheerpraktyke moet steeds toegepas word."

Noukeurige bestuur en waarneming geld ook nie net vir die periode van vogstremming nie. "Om geure en varsheid te behou, moet daar ná deurslaan steeds goed gesorg word vir die wingerd."

Wat die toekoms betref, sê mnr. Dippenaar hulle besef nou hoe belangrik seleksie is en dat 'n mens nie net kan staatmaak op bestuurspraktyke wat op die hele blok toegepas is nie. "As 'n mens vooruit wil gaan, moet daar al die pad geselekteer word.

"Identifiseer en merk eerstens die top-blokke. Selekteer dan rye binne die blok vir 'n top-produk. Lei mense op om in die wingerd te selekteer as hulle pars. Selekteer uiteindelik ook in die kelder."

Verder meen hy beheerde tekortbesproeiing gee aan produsente in die Robertsonvallei die geleentheid om geiler grondsoorte (waarvan die druiwe voorheen slegs vir grootmaatwyn geskik was) aan te wend om rooi druiwe van 'n beter gehalte te produseer.

Navrae: Mnr. Leon Dippenaar, tel. 023 626 1214.

Grootste voordele

Volgens mnr. Leon Dippenaar, wingerdboukundige van Graham Beck Wines buite Robertson, is van die belangrikste voordele van gereguleerde tekortbesproeiing wat in hul wingerde opgelet is, die volgende:

  • Beter beheer oor wingerd se loot- en lowergroei. Tekortbesproeiing kan toegepas word in oorgeil wingerde, bloot om die stokke normaal te laat groei en vrugbaarheid te herstel, sê hy.

  • Blare bied beter weerstand teen siektes.
  • Deurlugting in lower word verbeter.
  • Daar is 'n laer voorkoms van swamsiektes.
  • Wingerdstokke se wortelstelsels raak dieper. Dit kanaliseer energie van die plant na die wortelstelsel en beheer bogrondse groei.

  • Sade, en gevolglik korrels en trosse, raak gemiddeld twee tot drie weke vroeër ryp. "Dit beteken dat die plant beter in balans is en dat alle fisiologiese prosesse meer doeltreffend werk," sê mnr. Dippenaar.
  • 'n Beter wynkleur is een van die belangrikste resultate van beheerde tekortbesproeiing. "Die fenoliese komponente sit onder die druiwekorrel se skil en dis waarom kleiner korrels en 'n hoër dop-tot-sapverhouding voordelig is."

29 Augustus 2003

Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
Smalls

Besoek ons nuwe webwerf vir geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in LBW én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
17.33
+0.7%
Rand - Pond
21.03
+1.2%
Rand - Euro
18.14
+1.0%
Rand - Aus dollar
11.59
+0.8%
Rand - Jen
0.13
+0.9%
Goud
1,772.28
+0.2%
Silwer
22.21
-0.2%
Palladium
1,856.51
-1.1%
Platinum
990.50
-1.0%
Brent-ruolie
82.68
-3.5%
Top-40
68,420
-0.2%
Alle aandele
74,557
-0.2%
Hulpbronne 10
73,980
-1.1%
Industriële 25
91,397
-0.1%
Finansiële 15
15,738
+0.9%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
Kom leer my ken dan besluit jy self
Ek is n introvert maar sodra jy my leer ken maak ek oop. Is n natuurmens wat alles in buite lewe geniet. Eerlikheid is bitter belangrik daar sonder werk niks
Sexy kat wil jou bekoor
Ekt n mooi sterk persoonlikheid Eks n go getter hou van lag kuier Ek kom sterk voor en as n leier
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot